Let Wel

Slimkopplanne om elektrisiteit te spaar

2 min lees tyd
Huis 10 Julie 2015 deur Virseker

Elektrisiteit se prys styg by die dag en meeste van ons het reeds planne in plek om krag te spaar. Tog is daar altyd nog ’n paar dinge wat jy kan doen om jou verbruik selfs minder te maak. Kyk of jy al hierdie plannetjies reeds probeer het – dalk kan jy jou elektrisiteitsrekening laat daal vir ’n verandering!

 

Sit dit af! Sit dit af!

 

Een van die heel maklikste maniere om elektrisiteit te spaar is om die son as jou lig in te span. Dis gratis en verniet en byna heeljaar beskikbaar hier in sonnige Suid-Afrika! Trek jou gordyne wyd oop en laat die natuurlike lig by jou vensters in stroom.

 

Indien jy bekommerd is oor jou privaatheid, hou sonlig in gedagte wanneer jy weer blindings of gordyne koop. ’n Deursigtige, gaasagtige gordyn sal jou meer privaatheid bied, maar behoort steeds genoeg sonlig in te laat.

 

As jy meer lig benodig, skakel slegs dié aan wat jy benodig en vervang hulle met energie-besparende alternatiewe. Veral LED ligte is deesdae hoogmode omdat dit in soveel verskillende kleure beskikbaar is. Hulle spaar boonop tot 85% meer krag as tradisionele gloeilampe – terwyl CFL gloeilampe wat in meeste huise volop is sowat 75% minder krag gebruik. LED gloeilampe hou ook tot 25 keer langer as tradisionele gloeilampe. Hulle kan wel nogal duur wees, maar omdat hulle soveel langer hou behoort jy sommer gou-gou die besparing aan jou sak te voel.

 

’n Eenvoudiger manier om jou elektrisiteitsrekening te laat daal is om bloot nie ligte onnodig te laat brand nie. ’n Spanpoging van die hele gesin is die beste manier om die gewoonte te kweek. Herinner mekaar om die ligte af te skakel, of maak dit selfs die kroos se verantwoordelikheid.

 

Prop dit sommer uit!

 

’n Ander maklike plek om geld te spaar, is natuurlik om al jou elektroniese toebehore nie net af te skakel nie, maar sommer uit te prop ook! Vir sommiges is dit darem nie nodig nie, maar daar is ’n paar groot sondebokke wat lief is daarvoor om krag te vreet selfs al is hulle nie in gebruik nie.

 

Rekenaars is veral energievrate, as hulle nie werklik af is nie gebruik hulle steeds heelwat energie want hulle bly heeltyd reg om weer aan die werk te spring. Televisies, en alles wat saam met televisies kom, is net so stout. DVD-spelers, dekodeerders, klanksisteme, noem maar op – hulle almal gebruik krag selfs al is jy nie besig om húlle te gebruik nie. Prop die energievrate eerder uit vir optimale besparings.

 

Energiebesparings word hoog op prys gestel deur die ontwerpers van moderne tegnologie. Deesdae is eertydse energievrate soos yskaste, vrieskaste, wasmasjiene en skottelgoedwasmasjiene baie minder gulsig. Wanneer jy dié items moet vervang, neem beslis hul energieverbruik in ag.

 

Die goue reël om jou elektrisiteitsverbruik te verlaag is natuurlik om net dit te gebruik wat jy nodig het – byvoorbeeld, kook net soveel water as wat jy nodig het vir koffie, eerder as ’n hele ketel vol.

 

Die teenoorgestelde reël geld vir groot toebehore in jou huis, soos wasmasjiene en skottelgoedwasmasjiene. Hier maak dit baie meer sin om in grootmaat te werk!  Was eerder groter bondels wasgoed as om meer as een siklus van wasgoed te doen. Dieselfde geld vir skottelgoed – wag eerder tot die masjien vol is voor jy hom aanskakel.

 

’n Groot energievraat is natuurlik jou oond. Probeer om jou bakwerk só te beplan dat jy dit alles in een sessie deur die oond kan jaag. Sodoende hoef die oond net een keer warm te word. En moenie te veel loer na hoe jou handewerk vorder nie! Elke keer wat jy die oonddeur oopmaak verloor die oond omtrent ’n kwart van sy hitte.

 

Maklik, makliker, maklikste!

Sommige maniere om krag te spaar is makliker as ander – dit is waar! Sekerlik die heel maklikste manier om te spaar is om slimmer te werk met een van die grootste energie-suiers: jou yskas.

 

’n Goeie begin wat almal kan onthou: moenie die yskasdeur oophou terwyl jy jou maag se gromgeluide probeer ontsyfer nie. Besluit vooraf wat jy wil uithaal en maak die deur dan so gou as moontlik weer toe voor al die koue lug ontsnap.

 

Dis ook beter om jou yskas voller te hou. Dit sal dalk ’n klein bietjie langer vat om aanvanklik die nuwe items koud te kry, maar sodra hulle koud is verg dit nie veel van jou yskas om hulle so te hou nie. Hoe meer goed in jou yskas is, hoe minder plek is daar ook vir warm lug om in te glip wanneer jy wel die deur oop maak – so dis ’n dubbeldoelige oplossing!

 

Nog ’n baie maklike manier om jou rande te rek is deur ons Bakgat Voordele. Dié produkte is juis so ontwerp om jou in verskeie areas van jou lewe geld te spaar – en elke sent help mos!

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!