Let Wel

Rugbyreëls – hoe nou gemaak?

2 min lees tyd
Huis 29 Oktober 2015 deur Virseker

Maak nie saak hoe sag en bymekaar jy is nie, ons almal het al oomblikke gehad waar ons net nie ons gevoelens kon inhou nie en op die ref geskree het. Die een op die TV terwyl jy rustig in jou sitkamer sit en rugby kyk en die man in Engeland is – regtig ons het navorsing gedoen, hy kan jou nie hoor nie, al skree jy hoe hard. Ons het ook almal daardie lieflike verskoning gehoor oor die skeidsregter wat onregverdig was en nie reg geblaas het nie; “gun wonder ons het verloor nie”. Maar was die arme man tog verkeerd? Daarom nou dat die wêreldbeker goed aan die gang is, het ons hier by Virseker dit goed gedink om van die spel se reëls bietjie nader te sleep. 

 

In alle eerlikheid, as jy huisinhoudversekering deur ons het, dek ons skade aan jou TV, maar slegs as dit per abuis is. Dit beteken dat wanneer die TV kontrole misterieus die TV skerm tref en dit van die rak af duiwel, is jy nie gedek nie. Ons dek slegs ongelukskade, nie “is die ref blind – daardie was vorentoe” en toe glip die afstandbeheertoestel uit jou hand uit nie.

Daarom het ons dit goed gedink om net weer bietjie na die reëls en regulasies van die spel te gaan loer. Hier volg ʼn opsomming van ʼn paar van hulle.

Voordeel

Die doel van die voordeelreël is om kontinuïteit van spel te verseker dus geniet dit voorrang bo die meeste reëls. Indien die voordeelreël in plek is, word die spelers aangemoedig om aan te hou speel totdat die fluitjie blaas al oortree hul teenstanders -reëls. Daar kan ook ʼn taktiese voordeel toegeken word, wat beteken die span wat nie oortree het nie kan die bal speel soos wat hulle wil.

 

Onkant

ʼn Speler is onkant wanneer hy voor ’n spanmaat met die bal is, of voor ’n spanmaat wat laas die bal gespeel het, is. Wanneer ʼn speler onkant is, is hy tydelik buite spel en indien die speler dan aan die spel deelneem of vorentoe na die bal beweeg kan hy gestraf word.

 

Vorentoe

ʼn Speler gee die bal vorentoe aan indien hy die bal in die rigting van die teenstanders se doodlyn vir sy spanmaats gooi of aangee. Indien die bal vorentoe gegooi word, ’n speler of die grond tref en vorentoe spring, is dit nie ’n vorentoe aangee nie.

 

Aanslaan

Wanneer ʼn speler besit van die bal verloor en die bal gaan vorentoe; of as hy die bal vorentoe slaan met sy hand of arm; of wanneer die bal sy hand of arm tref, vorentoe gaan en dan aan die grond of ʼn ander speler raak voordat hy die bal kan vang is dit aanslaan van die bal. Indien ʼn speler aangeslaan het, kan die ander span ʼn skrum of ʼn strafskop toegeken word. Dit gesê, sou ʼn speler die bal afstorm wanneer ʼn teenstander dit skop, is dit nie aanslaan nie selfs as die bal vorentoe gaan.

 

Bal op die grond

Wanneer die bal op die grond beskikbaar is, kan ʼn speler, wat nie doodgevat is nie, grond toe gaan om die bal op te tel – so lank as wat dit nie na ʼn skrum of ʼn losskrum is nie. Wanneer die speler die bal in die hande kry moet hy onmiddellik optree om die bal speelbaar te maak. Indien die speler nie die bal speelbaar maak nie of die teenstanders hinder om die bal te kry deur op die grond te val, moet daardie speler gestraf word.

 

Doodvat

Wanneer die baldraer deur een of meer teenstanders vasgehou en grond toe gebring word, is hy doodgevat. Indien die teenstaanders wat hom vashou ook op die grond is, is hulle ook doodgevat. ʼn Bal kan slegs gespeel word deur spelers wat nie doodgevat is nie. Sou ’n teenstander die baldraer vashou en ’n spanmaat van die baldraer bind aan die baldraer, is ’n losgemaal gevorm en kan ’n doodvat nie plaasvind nie. Indien die bal onspeelbaar raak ná ’n doodvat, word ʼn skrum aanbeveel. Die span wat vorentoe beweeg het voor die stopsetting sal dan ingooi, of indien geen span vorentoe beweeg het nie sal dit die aanvallende span wees.

 

Lynstaan

Nadat die bal in die grensgebied binne gegaan het, word die spel op ʼn vinnige en regverdige wyse weer hervat deurmiddel van ʼn lynstaan. Die spelers wat nie aan die lynstaan deelneem nie moet ten minste 10 meter agter die ingooilyn of op / agter hul eie doellyn staan totdat die lynstaan eindig. Daar moet altyd ten minste twee spelers van elke span in ʼn lynstaan wees, terwyl die maksimum spelers deur die span wat ingooi bepaal word. Die teenstaanders mag dan enige hoeveelheid spelers in hul lynstaan hê tussen twee en die gekose maksimum. Die spelers moet dan in die lynstaan bly totdat die bal ingegooi is of hul aangesê is om te skrum of breek vir ʼn vryskop, sou hulle nie bly nie kan die ander span ʼn vryskop kry. Indien die ingooier skeef ingooi of so dat sy span moontlik kan voordeel trek, sal ʼn vryskop aan die ander span gebied word.

 

Rugbyreëls geneem uit Reëls van die spel deur World Rugby.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!