Let Wel

Kinderspeletjies

2 min lees tyd
Huis 08 Maart 2016 deur Virseker

Kinders van vandag weet mos nie meer hoe om hul tyd behoorlik te geniet nie. Dis net TV-, rekenaar- of selfoonspeletjies heeldag (en nag) lank. Onthou jy nog hoe jy kleintyd gehardloop het en boom geklim het en albasters gespeel het?
Leer jou kinders en hul vriende gerus van die genotvolle speletjies (dan gee jy ook sommer die selfone en tablette as ook jou Draagbarebesittingsversekering ʼn ruskansie). En net om dinge darem effe makliker te maak het ons gaan oplees oor hoe hierdie speletjies nou weer werk. Lees gerus hier deur om die geheue weer bietjie op te verfris en laat ons weet op Facebook wat jy altyd as kind (of selfs nou nog) gespeel het.


Vrot Pampoen


Al die spelers sit in ʼn kring met hul hande agter hul rûe. Een persoon loop (of hardloop) om die kring met ʼn sakdoek in sy/haar hand. Die sakdoek-hanteerder kies dan iemand in wie se hande hy/sy die sakdoek gaan laat val. Indien die persoon in wie se hande hy/sy die sakdoek in laat val het dit agterkom jaag hulle die sakdoek-hanteerder om die kring, as die sakdoek-hanteerder eerste by die leë sitplek kom is hy/sy veilig en is dit die jaer se beurt, indien hy/sy gevang word, moet hy/sy in die middel gaan sit. Mits die sakdoek-hanteerder die sakdoek laat val het en die persoon kom dit nie agter totdat die sakdoek-hanteerder weer by die sakdoek kom nie, is dit middel toe met hom/haar. So gaan dit aan totdat daar net een persoon oorbly en al die ander in die middel sit.


Blikbord


Laat al die spelers in ʼn kring sit en fluister vir elkeen ʼn geheime nommer in sy oor. Een persoon spin dan ʼn blikbord in die middel van die kring, roep ʼn nommer uit en gaan sit. Die persoon wie se nommer dit is moet dan na die bord toe hardloop en dit vang voordat dit platlê. Indien die bord gevang is voordat dit platval, is dit die vanger se beurt om die bord te spin en ʼn nommer uit te roep, indien nie, is die maker uit. Dit hou so aan totdat net een persoon oorbly. Hoe groter die kring is hoe moeiliker raak dit.


Kat en Muis


Twee spelers word gekies – een om die kat te wees en die ander om die muis te speel. Die res van die groep staan dan in ʼn kring en hou hande vas. Die kat moet aan die binnekant van die sirkel bly (dis die res van die spelers se taak om die kat daar te hou) maar die muis mag oral beweeg. Die spelers lig hul hande op om die muis in en uit te laat en hou dit af om die kat binne te hou. Die spel hou aan totdat die kat die muis kan vang en dan word nuwe spelers gekies.


Blindemol


Een speler word gekies, geblinddoek en in die rondte gedraai totdat hy/sy ‘dronk’ is. Die ander spelers moet in ʼn beperkte area rond hardloop en die mol moet hulle probeer vang. Indien die mol iemand gevang het moet die persoon stil staan sodat die mol kan voel wie dit is wat gevang is. Sou hy/sy nie kon raai wie dit is nie moet die gevangene ʼn geluidjie maak as ʼn leidraad. Sou die mol reg raai is die gevangene nou die mol, as hy/sy verkeerd raai is die gevangene weer op vrye voet.


Wolf, Wolf


Een kind loop voor, die wolf, met al die ander wat in ʼn lang ry agterna kom. Die kinders sing vir die wolf: “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” Die wolf skree elke keer ʼn tyd terug en dan vra die kinders weer, “hoe laat is dit”. So hou dit aan totdat die wolf skielik omdraai en skree “etenstyd”. Almal probeer vir wolf weg hardloop en wanneer hy/sy iemand vang, word die persoon die wolf en alles begin van voor af.

Speletjies gevind op Sariemarais.com .

http://www.kinders.sariemarais.com/speel.html 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!