Let Wel

Is vraatkyk vriend of vyand?

2 min lees tyd
Huis 11 September 2017 deur Virseker

Vraatkyk is nie ’n nuwe gier nie, maar jy het seker nog nie dié word teëgekom nie. Dis gelykstaande aan die Engelse "binge watch" en dit is wanneer 'n mens vir ure onophoudelik 'n sepie of reeks kyk.

Om jou gunstelingprogram te kyk, bied ’n gevoel van ontvlugting, maar net een episode is gewoonlik nie genoeg nie. Dus het die fenomeen “vraatkyk” ontstaan. Wat is dan nou lekkerder as om op te krul met ’n kombers, ’n paar peuselhappies en jou gunstelingreeks? Die voordeel van vraatkyk is dat daar geen onderbrekings, soos advertensies, is om jou aandag af te lei nie.

Bekende rolprentresensent Leon van Nierop noem die hoofrede waarom mense een episode na die ander kan verslind. “Wanneer ’n reeks so boeiend is met soveel naelbyters dat jy letterlik nie kan wag nie, raak dit verslawend. Jy wil daardie genot nie deur jou vingers laat glip nie.” Bron: Huisgenoot.

Aan die ander kant kan vraatkyk ook baie newe-effekte inhou. Volgens theguardian.com kan dit sleg wees vir jou geestesgesondheid, en ook aan ’n hoër risiko vir vetsug en diabetes gekoppel word. Kykers ervaar veral ná ’n vraatkyk-sessie gevoelens van eensaamheid en depressie. Dit is, alhoewel, nog nie duidelik of vraatkykers meer stres ontwikkel as ’n gevolg van vraatkyk, of andersom nie. Sommige mense mag dalk meer vraatkyk juis omdat  hulle baie stres het. 

’n Paar wenke:

- Druk gereeld “pause”. Moenie te lank na die skerm staar nie, en staan op om iets te doen tussen episodes.

- Wees ekstra aktief wanneer jy nie TV kyk nie! Jy kan selfs aktief wees terwyl jy kyk.

- Kry genoeg slaap – moenie laat vraatkyk jou kosbare ure steel nie.

- Eet gesonde happies terwyl jy kyk; vermy gemorskos.

Ons hoor graag jou opinie op ons Facebook-blad.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!