Let Wel

Hou jou tuin groen en jou waterrekening swart

2 min lees tyd
Huis 25 Augustus 2015 deur Virseker

Daar is ’n bekende sêding wat lui dat ’n tuin soos ’n goeie vriend is wat jy enige tyd kan besoek. Jou tuin vra nie veel in ruil vir die voorreg nie, net bietjie liefde, kos en natuurlik water. 

 

ie eerste stap om jou tuin meer bestand teen droogte te maak, is om seker te maak dat jou grond ryk is. Berei jou beddings voor met lekker baie organiese kompos wat sal help om water op te suig en diep wortelgroei sal bevorder.

 

Dis ewe belangrik dat jy ’n bedekkingslaag bo-oor sprinkel. ’n Deklaag keer dat al die water verdamp of sommer net wegspoel. Dit is veral goed in jou groentetuin, blombeddings en in bome en struike se dammetjies. Hangmandjies hou ook nie juis goed water nie, so ’n deklaag vir hulle sal jou plantjies baie gelukkiger hou.

 

Deesdae kry ’n mens ook jel-korreltjies wat jy in jou kompos kan inmeng. Hulle suig dan die water op en stoor dit vir droër tye – veral handig vir hangmandjies en potplante wat jy nie elke liewe dag wil nat maak nie.

 

Plant jou groentetuin slimmer

Om al jou groente in mooi, netjiese rye te plant is beslis ’n lus vir die oog, maar dis nie die mees effektiewe manier as jy wil water bespaar nie. Plant eerder jou groentetuin in ’n blok-formasie om mikro-klimate te skep en waterverdamping so laag moontlik te hou. Sekere plante hou daarvan om saam-saam te groei, so hou die wat min of meer dieselfde hoeveelheid water nodig het bymekaar – soos byvoorbeeld komkommer en murgpampoentjies.

 

Plaas jou fokus ook eerder op plante wat teen oestyd ’n groot opbrengs sal lewer. Tamaties, soetrissies en eiervrug is ou staatmakers. Maak seker dat jy net genoeg kweek vir jou eie behoeftes – sodoende spaar jy water en spasie in jou tuin. Een of twee entoesiastiese tamatieplante kan genoeg tamaties vir jou daaglikse behoeftes produseer. En behalwe as dit jou absolute gunstelinge is, los eerder watervrate soos brokkoli en blomkool.

 

Beste tyd om nat te lei

So baie tuiniers oorwater hul tuine – ’n geneigdheid wat nie net water mors nie, maar ook beteken dat jy meer tuinwerk doen as wat eintlik nodig is! Dis gelukkig baie maklik om te bepaal of jou tuin water nodig het. Soms lyk die boonste lagie grond baie droog, maar dieper grond is heel moontlik nog damp. Loer omtrent graaf-diep en as die grond dáár droog lyk moet jy beslis die tuinslang nader trek.

 

Dis ietwat moeiliker om te bepaal as jy kleiagtige of sanderige grond het. Kleiagtige grond voel sommer altyd nat en sanderige grond byna altyd droog. Jou plante sal jou hier lei – wanneer hul blaartjies begin hang of donkerder word weet jy dat hulle water nodig het. Let op hoe die grond dan lyk sodat jy in die toekoms jou tuin se waterbehoeftes makliker kan lees.

 

Hou ook die weervoorspellings dop sodat jy jou tuin behoorlik kan natmaak voor ’n hittegolf of droogte jou provinsie tref. Die goue reël is om jou tuin eerder vroegoggend of laatmiddag nat te maak sodat al die water deur die grond, eerder as die son, opgesuig kan word.

 

Herwin jou water

Elke keer wat dit reën spoel liters en liters water weg – maar selfs net een balie onder ’n geut staangemaak kan jou waterrekening laat krimp! Koop een waaraan jy maklik ’n tuinslang kan koppel en jy sal ongetwyfeld die verskil aan die einde van die maand aan jou sak voel.

 

Grys water, die water van jou bad, stort, wasgoed en selfs skottelgoed, kan beslis hergebruik word om jou tuin nat te maak. Huishoudelike seep en waspoeiers sal nie jou plante beskadig nie, maar hou eerder verby met blykmiddels, ontsmettingsmiddels, skottelgoedwasmasjien-sout en soortgelyke harder skoonmaakmiddels wat jou plante en grond skade kan aandoen.

 

Selfs die water wat jy gebruik om kos soos pasta of groente in te kook kan in jou beddings gegooi word sodra dit afgekoel het. Water waarin jy eiers of groente gekook het is veral goed omdat daar klomp voedingstowwe in die water is wat jou plante baie sal geniet. Dieselfde geld vir jou vistenk se ou water – dit is ryk aan stikstof en fosfaat wat baie goed is vir jou plante.

 

Jou tuin en huis behoort vir jou ’n veilige en vredevolle hawe te wees. Daarom moet jy seker maak dat jy alles in jou vermoë doen om jou ontspanplek te beskerm – en natuurlik kan ons daarmee help. Loer bietjie om ’n idee te kry van hoeveel omvattende gebouversekering jou sal kos.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!