Let Wel

Hoe lees jy?

2 min lees tyd
Huis 19 Mei 2016 deur Virseker

Afrikaans is ʼn vreeslike kleurryke taal. Dit kan fantastiese karakters beskryf van vreesaanjaende monsters met ystersaag tande en ʼn voorliefde vir koeksisters. Of ʼn charismatiese dame met ʼn koekerige haarstyl, ʼn wantroue vir mense en ʼn sagte plek vir messe. Afrikaans kan ook betowerende tonele verf van ongewone helde wat hul vrees vir hoogtes, spinnekoppe en/of hulself oorkom. Daar is ʼn oneindige hoeveelheid verhale, staaltjies, grappies, berigte en meer wat ons met Afrikaans kan skep.


Meer as net skep, kan ons ook ure se genot uit ander se skeppings put deur te lees. Maar dit los die vraag, hoe lees jy? Maak jy van boeke, elektroniese boeke of oudioboeke gebruik? Ons het bietjie gaan ondersoek instel en gevind dat daar ʼn mengsel van voorkeure is, en daarom het ons gaan oplees oor wat van die voor- en nadele van al die verskillende leesmetodes is. 

 

Boeke[i]

Voordele 

  • Nostalgie, niks kan die gevoel, reuk of die kraak van die boekrug van ʼn boek vervang nie. Die jare se gebruike en boodskappe wat voor ingeskryf is, is ook eie aan boeke.
  • Deelbaar, dit is baie maklik om ʼn goeie boek met jou vriende te deel – jy gee net die boek vir hulle. (Indien jou vriende nie altyd boeke terugbring nie, neem ʼn foto waar hulle die boek vashou.)
  • Sentimentaliteit, ʼn boek kan ʼn baie intieme present wees wat iemand vir jou gee, die boodskap van die boek as ook hul eie boodskap wat hul binne in skryf sal altyd ʼn tasbare deeltjie van hulle wees wat jy by jou kan hou al is hulle nie daar nie.
  • Maklik, so lank as wat daar lig is kan jy net die boek optel en lees. As dit beurtkrag is en die TV of rekenaar is uit, kan jy lekker terugsit en lees – dan spaar jy ook sommer jou selfoon se battery.

 

Nadele

  • Spasie, boeke neem baie spasie op (enige iemand wat al getrek het sal dit kan staaf) hulle vul gou-gou jou boekrak op en begin dan stapel-torings deur die huis.
  • Kostes, boek aankope kan vinnig-vinnig ʼn lelike bedraggie in jou beursie brand. Nou jy kan tweedehandse boekwinkels of ʼn biblioteek besoek om kostes te verminder, maar dan mis jy gewoonlik uit op die nuwer uitgawes.
  • Lig, boeke benodig lig (sonlig, kerslig of bedlamp) jy kan nie lees as jy nie kan sien nie. Hierdie kan ʼn probleem wees wanneer jy iewers heen ry (as jy die passasier is), as daar beurtkrag is of wanneer jou geliefde eerder wil slaap mat die lig af.
  • Duursaamheid, alhoewel dit soms die karakter van die boek kan ‘verbeter’, is die natuurlike elemente nie eintlik ʼn boek se vriend nie ook nie klein kindertjies met inkleurkruit nie.

 

Elektroniese Boeke[i]

Voordele 

  • Spasie, jy kan duisende boeke op een masjientjie laai en dit oral met jou saam dra. Wat dit veral maklik maak om boeke saam met jou op reis te neem.
  • Lettergrote, met meeste van die toestelle kan jy die letter grote verander om dit makliker te maak vir jou om te lees.
  • Helderheid, met meeste van die toestelle kan jy selfs die helderheid van die skerm aanpas om dit makliker te maak om te lees in ʼn donker area of as die dag te helder is.
  • Kostes, elektroniese boeke is baie goedkoper as gewone boeke en jy kan selfs van die weergawes verniet in die hande kry.
  • Beskikbaarheid, indien jy ʼn liefde vir aanlyn aankope het, kan jy dadelik jou boek aflaai as jy dit gekoop het.

 

Nadele

  • Kostes, hierdie lees toestelle kom nie sommer vir ʼn appel en ʼn ui nie, selfs die mees basies toestelle is nie goedkoop nie.
  • Elektrisiteit, van die batterye hou langer as ander maar jy moet steeds altyd seker maak dat die toestel gelaai is – geen elektrisiteit geen leesmiddel.
  • Uitleen, dit is nogal ʼn storie om ʼn elektroniese boek uit te leen. Party programme maak dit makliker as ander, maar jy sal eers tyd moet bestee om vas te stel hoe dit nou eintlik werk.
  • Nostalgie, dit het geen van die nostalgiese voordele van ʼn boek nie – dis maar net ʼn klein rekenaarkie. Jy kry ook glad nie ʼn tweedehandse elektroniese boek nie.
  • Duursaamheid, indien jy per ongeluk ʼn glas water oor die toestel uit gooi of dit in die bad laat val, is dit glad nie so maklik om die waterskade te herstel nie.

 

Oudioboeke[ii]

Voordele 

  • Toeganklik, dis vinnig om te gebruik sit die CD in jou speler of laai die mp3-lêer, druk speel en luister.
  • Disleksie, mense wat disleksies is of leer probleme het kan boeke baie makliker geniet.
  • Gerieflik, jy kan dit speel terwyl jy kos maak, werk doen, draf of vlieg en na ʼn lekker storie luister.
  • Spasie, as jy net van mp3-lêers gebruik maak benodig jy net stoorplek op jou rekenaar. Jy kan dit ook op ʼn klein toestel of jou foon laai en dan benodig jy slegs oorfone.

 

Nadele 

  • Tegnologie, jy benodig die regte toestelle om dit op te luister, internet toegang om dit af te laai en elektrisiteit om te verseker jou toestel is gelaai.
  • Uitleen, jy kan nie die boeke sommer uitleen nie.
  • Plek, dit is glad nie so maklik om vorentoe of agtertoe te blaai met ʼn oudioboek nie. Jy kan dit vorentoe of agtertoe speel maar om ʼn presiese plek te kry vererg nogal konsentrasie.
  • Aandag, dit lei maklik jou aandag af wat die rede is waarom jy nie daarna moet luister wanneer jy bestuur nie.
  • Kostes, in Suid-Afrika is meeste oudioboeke op CD’s te koop wat dit redelik duur maak om te koop. 


Maak nie saak hoe jy verkies om te lees nie, dit is altyd belangrik om jou versekering gepas aan te pas, jy kan dit baie vinnig aanlyn doen met die aanlyn Virseker polisbestuursisteem. Indien jy ʼn toestel gebruik om meer te lees, maak seker dat jy draagbareversekering het en dat jy die reeksnommer neergeskryf het waar jy dit weer maklik kan kry indien jy ʼn eis moet indien.

 

i. https://mvlteenvoice.com/2013/12/19/print-book-vs-ebooks-pros-and-cons/

ii. http://ezinearticles.com/?7-Pros-and-7-Cons-of-Audiobooks&id=3754682

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!