Let Wel

As die kat weg is

2 min lees tyd
Huis 25 November 2015 deur Virseker

Dis Desember vakansie! Die kinders is lekker by die huis, Kersfees inkope word gedoen, pakkies word toegedraai en vir baie van ons lê daar ʼn lekker see vakansie of ʼn kuier by ouma voor.

Maar wat gemaak met jou huis? Jy kan nie alles wat jy besit saam met jou op reis neem nie en selfs al ry jy met Jan Tuisbly se karretjie, is daar altyd ʼn moontlikheid dat skelms gaan aanklop.

Daarom het ons dit goed gedink om net ʼn paar sekuriteitswenke met jou te deel, sodat jy die Kersseisoen met ʼn rustige hart kan geniet.

  • Laat weet jou sekuriteitsmaatskappy en / of die buurtwag dat jy vir ʼn paar dae op vakansie gaan.
  • Vra jou bure om ʼn ogie te hou: ligte aan- en afskakel, gordyne oop en toe maak, jou pos uithaal, jou asblik uit te sit ens. Dit alles help om die indruk te skep dat daar iemand tuis is wat moontlik ongewensde elemente uit jou huis kan hou.
  • Jy kan selfs ʼn tydhouer op van jou muurproppe sit wat jou TV, radio ens. outomaties sal aanskakel; dit sal help om die indruk te skep dat daar wel iemand tuis is. Maar moenie jou TV heeldag aan los nie, nes met ligte, as dit heel tyd aan bly gaan jy dit weggee dat jy nie by die huis is nie.
  • Moenie op sosiale platforms adverteer dat jy met vakansie is nie – net nou net vind die verkeerde persoon daarvan uit.
  • Gooi jou nuwe Plasma TV boks (of ander duursame besittings se bokse) ordelik weg, nog beter herwin dit. Boewe loop verby jou huis en sien die bokse wat langs jou asblik staan raak; dadelik weet hulle wat binne jou huis is.
  • Installeer sekuriteitsligte, dit behoort skelms skrik op die lyf te jaag of ten minste te dien as ʼn waarskuwing dat daar iemand op die erf is.
  • Maak seker jou alarm is in ʼn werkende orde en dat jy reserwe batterye het wat kan inskop mits die een pap word of as daar ʼn kragonderbreking is.
  • Kyk na al jou slotte en diefwering om seker te maak dat alles nog in ʼn goeie toestand is.
  • Moenie waardevolle besittings of geld opsigtelik laat rond lê nie. Dit klink vanselfsprekend, maar selfs items soos ʼn duur ketel of ʼn versapper kan ongewensde gaste nooi.
  • Sluit jou waardevolle juweliersware, dokumente ens. in ʼn kluis toe.
  • Indien jy jou motor by die huis agter laat, sit die sleutels iewers  weg waar dit nie sommer gekry sal word nie.
  • Maak honderd persent seker dat al jou vensters toe is en dat al jou deure gesluit is.
  • Sit bordjies op wat waarsku dat jy ʼn sekuriteitsstelsel in plek het, was sal help om booswigte af te skrik.

ʼn Bok vind altyd sy pad uit ʼn hok uit; so ook sal ʼn gedetermineerde krimineel sy pad tot binne jou huis kan vind. Maak seker jy is voorbereid vir die ongelukkigheid met omvattende huis- en geboueversekering wat jy kan vertrou. Dis ook belangrik om te onthou om jou huisinhoudversekering op datum te hou, sodat jy ten volle uitbetaal kan word. 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!