Let Wel

7 Afrikaanse boeke wat jy moet lees

2 min lees tyd
Huis 08 Mei 2018 deur Virseker

Wanneer laas het jy ’n boek of ’n lywige artikel gelees? By Virseker, glo ons dis belangrik dat ’n mens lees. Nie net omdat dit so baie voordele inhou nie, maar ook sodat ons pragtige taal kan voortleef. Hier is ’n lys van 7 Afrikaanse boeke wat jy móét lees.

1. Kringe in ’n Bos – deur Dalene Matthee

Kringe in ’n Bos is sekerlik bekroonde skywer Dalene Matthee se mees bekende boek. As jy nie destyds hierdie treffer op skool gelees het nie, is nou jou kans. Die boek draai om ’n houtkapper en ’n olifantbul, en die vreemde band tussen hulle. Saam loop hulle kringe deur die Outeniekwa, opsoek na die waarheid wat die houtkapper, Saul, se lewe vir altyd sal verander.

2. Fiela se Kind – deur Dalene Matthee

Nóg ’n Dalene Matthee boek wat jy nie kan oorslaan nie. Fiela se kind speel af in die Lange Kloof en is die storie van Fiela Komotie en haar vondelingskind, Benjamin. Soos die verhaal afspeel begin die leser wonder – kan Benjamin die verlore kind van die Van Rooyens wees?

3. Byleveld: Dossier van ’n Baasspeurder – deur Hanlie Retief

Hierdie boek is gebasseer op die interessante ware verhaal van speurder Piet Byleveld se lewe en loopbaan. Hy is die man wat van Suid-Afrika se bekendste misdade opgelos het. Byleveld het sy dossiere beskikbaar gestel aan die skrywer, en lesers kry dus ’n kykie na van die mees berugte moordenaargevalle wat hy opgelos het.

4. Stiltetyd – deur Marita van der Vyver

Stiltetyd draai om ’n gesin wat hul jongste kind verloor kort voor hulle vertrek na Frankryk. Die storie kyk na hoe elkeen in die huisgesin daarmee worstel, maar veral die ma se ongeneeslike hartseer en haar soeke na haarself.

5. Dis Ek, Anna – deur Elbie Lötter

Dié boek is ook gebasseer op ’n ware verhaal en die skrywer skryf onder ’n skuilnaam. Die hoofkarakter Anna kon aan niemand vertel van dit wat tussen haar en haar stiefpa gebeur het nie. Dit is eers jare later wat sy dit kan uitskryf en probeer oorkom.

6. Fees van die Ongenooides – deur P.G. du Plessis

Raak verlore in die wel en wee van 'n uitgebreide Vrystaatste familie, die Van Wyks, tydens die Anglo-Boereoorlog. Elke karakter se storie word met oorgawe vertel, en hierdie is ’n boek wat geen geskiedenis- of taalliefhebber nie moet misloop nie.

7. Dis Koue Kos, Skat – deur Mariete van der Vyver

Dis Koue Kos, Skat is die briewe van ’n vrou, Clara, wie se man haar verlaat vir een van haar beste vriendinne. Die briewe wys die verskeie fases van Clara se herstelproses: haar woede, aanvaarding, nuwe vryheid en aaneenlopende poging om haar kinders “normaal” groot te maak.

Gryp hierdie naweek ’n boek of twee en begin lees. Hoekom dan nou nie? Voordele sluit in ’n vergrootte woordeskat, stresverligting, ’n beter geheue, en vele meer. Lekker lees!

 

Bronne:
https://www.goodreads.com/list/show/624.Beste_Afrikaanse_boeke
www.dalenematthee.co.za/boeke/fiela.html
http://www.litnet.co.za/die-energie-en-die-chaos-van-die-lewe-treffend-vervat-in-pg-du-plessis/
https://www.lifehack.org/articles/lifestyle/10-benefits-reading-why-you-should-read-everyday.html
Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!