Let Wel

10 Waterwenke

2 min lees tyd
Huis 30 November 2015 deur Virseker

Moeder Natuur is nou een tannie wat jy nie wil kwaad maak nie. Sy is wild en woes en wanneer sy besluit om stil-behandeling toe te pas – weet ons almal daarvan. Waterskaarste is geen grap nie. En as dinge aanhou soos wat dit doen is “beurtwater” ons voorland.  Maar te min reën is nie ons enigste water-probleem nie. Volgens Netwerk24 gebruik ons nie net meer water as wat daar is nie maar 37% van ons drinkwater word gemors weens lekkende pype, stukkende krane ens. 

Daarom het ons dit goed gedink om bietjie te gaan oplees oor hoe om jou water verbruik te verminder. En onthou hoe minder water jy gebruik, hoe minder betaal jy; dis nou vir jou ʼn wen-wen situasie.

Hier is ons waterwenke:

Soek vir lekke

Kyk waar jou watermeter lê, wag twee ure sonder om enigsins water te gebruik en kyk weer waar jou watermeter lê. Indien dit aangeskuif het, het jy ʼn water lek. Sit bietjie voedselkleursel in jou toilettenk. Indien die water in die bak ook van kleur verander , lek jou toilet. 

 

Maak druppende krane reg

ʼn Lekkende kraan kan tot 15 liter per dag mors. Meeste van die tyd is dit net die wasser wat deur is, wat jy vinnig-vinnig by ʼn hardewarewinkel kan koop en self vervang. 

 

Draai die kraan toe

Wanneer jy skeer, tandeborsel, gesig was, skottelgoed was of groente afspoel moet jy nie die kraan laat loop nie, dit kan meer as 6 liter per minuut spaar. Tap net genoeg water in die wasbak om jou taak te verrig.

 

Bekerwater

Hou ʼn beker met water in jou yskas. So sal die water altyd lekker koud wees en hoef jy nie die kraan ʼn tyd lank te laat loop om kouewater te kry nie.

 

Baksteen  in die toilet

Sit ʼn baksteen of ʼn gevulde bottel in die toilettenk, om minder water te verloor wanneer jy spoel.

 

Herwin water

Wanneer jy groente gewas of gekook het, moenie die water weggooi nie, gooi dit oor jou plante. Jy kan selfs jou skottelgoed en wasmasjien se waterpype in ʼn drom buite laat uitloop wat jy dan kan gebruik om jou tuin mee nat te lui. Jy kan selfs ʼn drom in die stort sit om water op te vang of net jou bad water uitskep inplaas van om dit in die drein af te verloor. Selfs ysblokkies wat op die grond val kan gebruik word om jou plante nat te maak.

 

Reënwater

Vang reënwater op vir later gebruik. Stel jou geute so op dat dit in ʼn drom uitloop en nie verlore gaan nie.

 

Hou die horlosie dop

Lui jou tuin nat na ses uur in die aand of voor ses uur in die oggend om seker te maak die water gaan waar dit die nodigste is – in die grond. Moet dit ook nie elke dag nat lui nie maar liewer vir langer periodes om te vir seker dat die water diep genoeg in die grond afsak waar dit nodig is. As jy nie seker is hoe lank om dit nat te spuit nie, sit ʼn leë tunablikkie neer en wanneer dit vol is, het jy genoeg natgespuit.

 

Gooi  ʼn deklaag

Gooi  ʼn deklaag rondom jou tuin en bome, dit sal voorkom dat water te vinnig weer verdamp en as ʼn bonus keer dit ook bossies om te groei.

 

Waar spuit jy?

Let op waar jou sproeier spuit en pas dit aan sodat jy nie water op die paadjies mors nie.

Ons kan dit ongelukkig nie maak reën nie, maar ons kan jou geboue teen wind en weer en Moeder Aarde dek. Voltooi ʼn geboueversekeringskwotasie en sien hoeveel jy kan spaar.

Die inligting in hierdie artikel is slegs vir informatiewe doeleindes en word nie as professionele advies beskou nie. 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!