Dinge begin net-net reg lyk vir ’n braai en jy’s hoeka al lankal uitgehonger vir ’n heerlike saamkuier met jou gunstelingmense om ’n gesellige vuurtjie. Maar wanneer is dit veilig om letterlik in iemand anders se kole te krap?
Daar is ’n paar verskillende kategorieë braaiers en jy moet vooraf weet watter braaier, of dit nou ’n gasheer of -vrou is, om te verwag. Anders is die vet behoorlik in die vuur. Die gevaarlikste een is hierdie een.
1. Dis myne
Is jou gasheer die mens wat jaloers oor sy vuur waak en ’n absolute perfeksionis is oor hout of houtskool? Volgens hom begin die regte braaivleisvuur met net soveel stukke hout in ’n vierkant of ’n piramiede . . . En as houtskool ingespan word, word dit streng volgens die instruksies op die sak waarin dit kom.
Oor die regte braaihout kan daar natuurlik ure lank gesels word. So amper asof daar ’n tesis daaroor gelewer word. Die hele braaiproses van die eerste stukkie hout tot die laaste grou kooltjie word met die delikate vernuf van ’n sjirurg benader. En wee die een wat hom weerspreek of dit waag om met ’n tangerige iets in die rigting van daardie vuur mik.
’n Hele paar jaar gelede was daar ’n komiese situasie in ’n televisie-ateljee toe twee plaaslike politici tydens ’n regstreekse uitsending kwaai met mekaar geraak het. En die benoude aanbieder het iets in der voege geuiter: “Don’t touch me on my studio.” Wel, hierdie braaier sal daai woorde uitsis, dreigender as wat ’n stuk boerewors sal sis wanneer die hitte die vel laat bars.
En wanneer als gereed is om op te dis, sal jy soos ’n gehoorsame gas sit en dankie sê vir wat volgens Mnr. Dis Myne die lekkerste stuk steak sal wees wat jy nog ooit sal proe. Want dit begin by daai vuur-aansteek met die invalshoek van die hout . . .
2. Dis joune
Is jy al vir ’n braai genooi en dan staan die gasheer blitsvinnig opsy om gou “ietsie in die kombuis te gaan haal”. ’n Halfuur later wag jy nog. Dan besef jy dat as daar iewers iets op die kole gaan beland, moet jy nou maar oorneem en die vuur begin, of jy nou onbeholpe met die besigheid is of nie.
Sukkel-sukkel doen jy maar die ding al die hout is effe nat en daar’s net ’n pieperige paar stukkies vuuraanstekers.
Dan begin jy maar soos ’n benoude bees die klein flikkerende vlammetjies aanblaas. Dis rook waar jy kyk en jou oë en longe ontsnap dit nie. Jy hoes en jy proes, en skiet ’n stille dankgebedjie op toe die eerste vlammetjie vir langer as 3 sekondes flikker. Jy’s ’n vuurgod! Jy’t ’n vuur gemaak.
En dan kom die gasheer ewe ongeërg terug uit die kombuis, gee jou sydelings ’n kompliment oor hoe gou jy die vuur gemaak het maar vermy die besigheid verder asof dit hom enige tyd gaan pik. Jy pik ’n traan . . . maar dis net omdat jou oë en jou longe brand.
So terloops word die bak met die braaivleis ook langs die vuur neergesit in ’n subtiele gebaar dat jy eintlik nou sommer die braai ook kan doen. Hy het immers die vleis uit die kombuis gaan haal en tot hier gebring.
Diep in jou hart weet jy dat Mnr. Dis Joune eers weer gaan naderstaan as jy wankelrig in jou hoop op die graad van gaarheid aankondig dat jy dink die braaivleis is gereed.
3. Dis ons s’n
Wie ken nie die joviale gasheer nie? Die ou wat wanneer jy aankom vir jou ’n bier in die hand stop, terwyl jy nou eintlik smag na jou yskoue wit wyntjie.
Die gemoedelikheid loop hoog en jy vergewe hom ligtelik. Hand op jou skouer dwing hy jou soos ’n lam ter slagting in die braaiplek se rigting en kort voor lank vertel hy jou wanneer jy die volgende houtstomp op “julle” vuur kan sit.
Tussendeur steur hy hom bitter min aan wat daar eintlik besig is om met die vuur aangaan want hy is te besig om bier en grappies en boudklappe met die res van die gaste te deel.
Een van die ander gaste bring die bak met braaivleis na jou toe. Nogal ewe met ’n paar instruksies komende van Mnr. Ons S’n af oor wie se tjoppie en wie se steak dit is. En o ja, maak tog seker daai een is medium en die res goed gaar.
Omdraaikans is daar nie, want die res van die bier-in-die-hand-gaste is besig om hulle te verluister aan Mnr. Dis Ons S’n. Wonder bo wonder maak hy soms ’n draai by die braai en druk-druk so met die braaitang aan ’n tjoppie.
Eindelik is alles reg, jy is gloeiend warm van voor die vuur staan, jy het nog steeds nie jou glasie witwyn gekry nie (want daar is mos bier) en almal lyk skielik baie honger.
En dan, net so joviaal as met jou aankoms, slaan Mnr. Ons S’n sy arm om jou skouer en kondig aan: “Staan nader, ouens, die kos is reg. Ons twee het darem nou vir julle heerlike tjops en steaks gebraai.”