Let Wel

Moets en moenies vir ’n meesterlike braai

2 min lees tyd
21 September 2022 deur Virseker

Die idee om ’n braai op die ingewing van die oomblik te hou, kan as spontaan gesien word. Maar dit kan ook op ’n enorme fiasko uitloop as jou voorbereiding kortskiet. En jou gaste kan dan óf hopeloos te laat óf glad nie opdaag nie. 

Elkeen het verskillende verantwoordelikhede en planne, en dit is bloot goeie maniere om vooraf te weet hoe, wat en waar . . . 

Danksy ’n paar uitstekende weervoorspellingsagentskappe het jy oor die algemeen ’n goeie idee wat weersgewys voorlê. Nie almal het ’n binne- of onderdakbraai nie en as dit begin reën of ’n lastige wind steek op, moet jy seker wees jou gaste kan binnenshuis gaan.

Jy moet ook vooraf weet hoeveel mense jy gaan nooi. So kan jy seker maak daar’s genoeg sitplek, eetgerei en versnaperinge vir almal. Moenie wag om alles tot op die nippertjie reg te kry nie. Jy nooi mense om gesellig te kom wees, nie om te kom regruk wat jy as gasheer of -vrou reeds gereed moes hê nie.

Wees vooraf duidelik wanneer jy jou gaste nooi: 

  • Gaan dit ’n bring-en-braai wees of gaan jy al die kos verskaf?
  • Moet elkeen sy/haar eie drankies saambring? 
  • Is enige van jou gaste dalk vegetariërs? Indien wel, maak seker dat hulle wel ook van die versnaperinge kan geniet.

Dit moet ook deel van jou voorbereiding wees om seker te maak die vuur is al aan die gang wanneer jou gaste opdaag. Maak seker hulle is almal gemaklik en het ietsie om te drink voordat jy met die braai self begin.

Dit is byvoorbeeld onaanvaarbaar om jou gaste vir 18:00 te nooi en dan rondom 22:00 eers te onthou om die vuur te maak. Teen daardie tyd is almal verby honger, sommige net té vrolik en ander verby knorrig en van ’n heerlike braai met vriende is daar min sprake.

Genooide gaste het natuurlik ook ’n verantwoordelikheid om seker te maak dit is ’n gemoedelike geleentheid vir almal.

Wees betyds. Dit is onvanpas om ure na die tyd op te daag met een of ander lamlendige verskoning. As jy nie betyds kan wees nie, of veel lekkerder elders kuier – is dit beter om jou gasheer te laat weet jy gaan dit nie maak nie. Tradisionele laatkommers is ’n pyn in die nek en oor die algemeen toon dit ’n absolute gebrek aan respek jeens die gasheer en die ander gaste. 

Al sê die uitnodiging dat jy niks hoef saam te bring nie, is dit altyd raadsaam om ten minste waardering vir die uitnodiging te toon op ’n tasbare wyse, of dit nou ’n bottel wyn, die gasheer se gunsteling-sjokolade of ’n slaai is. 

As dit ’n bring-en-braai is, moet jy voldoende voorsiening maak vir wat jy gaan eet. Moenie ’n bedremmelde tjoppie bring en dan weglê aan die ander gaste se steaks nie. 

Jy kan ook behulpsaam wees sonder om die geleentheid oor te neem. Jy kan selfs help om die tafel af te dek en met die skottelgoed te help. Sommige kere mag jy vrolik uit die kombuis geboender word, maar daar is wel kere wanneer hierdie soort van hulp baie welkom sal wees.

Annelien Pienaar, dosent en skrywer van die kookboek Boerekos met ’n Twist, sê dis deel van die saamkuier.

Hoe gemaak as dit tyd is om huiswaarts te keer en daar’s hope oorskietkos? Renette Vosloo van Rooitamatie sê oorskietkos is vir baie mense ’n probleem en stel voor jy neem liefs joune huis toe. “Maar los die bruikbare drank daar . . .”

Bronne: 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!

Verwante Blogs