Let Wel

Kom ons vier ons taal

2 min lees tyd
20 Februarie 2023 deur Virseker

21 Februarie is Internasionale Moedertaaldag, ’n dag waarop duisende moedertale wêreldwyd gevier word.

Ons land spog met ’n ryk verskeidenheid van tale, maar elkeen van ons het ons “eie” taal – ons moedertaal, die eerste taal wat ons as kinders leer praat het. Dis ook die taal waarin ons grootgeword het, en waarin ons gesels, gesing en gespeel het. En vir baie van ons is dit tot vandag toe nog die taal van ons hart.

Vir 13,5% Suid-Afrikaners is dié taal Afrikaans , en vir Afrikaanssprekendes is ons taal veel meer as net ’n manier om met ander mense te kommunikeer – dis wié ons is, dis ons waardestelsel, ons kultuur en ons hele lewensuitkyk.

Moedertaaldag is ’n ’n baie belangrike dag vir Virseker omdat die bevordering van Afrikaans, en daardeur, die bevordering en beskerming van die Afrikaanssprekende gemeenskap, die grondbeginsels van ons handelsmerk is.

Deur middel van die Virseker Trust en die bydrae van ons polishouers is Virseker in die gelukkige posisie om soveel meer vir Afrikaans te kan doen. So is daar tot dusver meer as R100 miljoen geskenk om Afrikaanse onderriginstansies te ondersteun, rentevrye studiehulp beskikbaar te stel, Afrikaanse aanlyn-skoollesse te befonds en mense wat tydens die Covid-19-pandemie in finansiële nood verkeer het, te help.

Musiek is een van die belangrike hoekstene van die Afrikaanse kultuur, en ook hier speel Virseker as vurige ondersteuners van Afrikaanse musiek, ’n groot rol.

Tydens die pandemie het ons daartoe bygedra dat aanlyn-musiekvertonings plaasgevind het. Op dié manier kon Afrikaanse kunstenaars ’n inkomste in die moeilike tyd hê. Noudat die grendelstaat agter die rug is, gee ons ons polishouers die geleentheid om musiekvertonings teen afslagpryse te kan bywoon – ons manier om dankie te sê vir hul bydrae tot ons ondersteuningsinisiatiewe.

Ons ondersteun musiek nie net vir die vermaaklikheidswaarde daarvan nie – Afrikaanse musiek help ons taal om te groei. Een van die beste voorbeelde van hoe lewendig ons taal is, is hoe mense byna op ’n daaglikse basies nuwe woorde en uitdrukkings skep. Baie hiervan word deur sangers en liedjieskrywers geskep, en dit word mettertyd gewilde uitdrukkings wat deel van ons daaglikse woordeskat word.

Hoekom is dit belangrik? Want solank ons taal groei, bly dit gesond, en solank dit gesond bly, bly ons gemeenskap gesond. Afrikaanssprekendes vorm ’n passievolle gemeenskap wat eenvoudig deur daagliks Afrikaans te praat, aktief help dat ons taal lewendig en dinamies bly.

Dis dié gees van vasberadenheid om ons taal lewendig te hou, wat ons vanjaar op Moedertaaldag vier.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!

Verwante Blogs