Let Wel

het verkeerd geval vir my

2 min lees tyd
09 Maart 2016 deur Virseker

Ek vat die brief en lees dit stadig deur.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Ek verstaan nie kop of stert nie; kry net my gedagtes agtermekaar.

Honderd-en-sewentigduisend.

Ek gee die brief ongeërg terug.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Stadig maak ek die deur oop en klim uit my Citi Golf uit.

Honderd-en-sewentigduisend.

“Dit sal seker nie te lank vat om my karretjie deur te soek nie,” sê ek vriendelik.

Vier van Ou Rooies se maters stap nader. Hiënas. ʼn Lang maer man met ʼn gesig vol sproete loop na my toe.

“Meneer ons wil jou ook net deursoek.”

Honderd-en-sewentigduisend.

“Julle wil wat?”

Die knapie klop sy bors en bolyf om te verduidelik.

“Ah, geen probleem.”

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

“Waarna soek julle?” vra ek Ou Rooies terwyl Sproetjies my lyf klop. Ou Rooies se ogies word dunner soos hy my aangluur.

“Het jy iets om weg te steek?”

Honderd-en-sewentigduisend.

“Ons het almal iets om weg te steek,” sê ek bitter.

Honderd-en-sewentigduisend.

“Ek bedoel maar net sonder ʼn geheim so hier en daar sou die lewe maar bra vervelig gewees het, dink jy nie? Ek wil net weet hoekom ek hier langs die pad staan en deursoek word.”

Sproetjies maak sy mond oop om my te antwoord maar Ou Rooies gee hom ʼn skewe kyk en hy gaan help sy maters met my motor se soektog. Ou Rooies draai sy skrefies op my.

“Het jy ʼn probleem daarmee?”

Honderd-en-sewentigduisend.

“Ek gaan nou nie lieg nie, dis nie my idee van lekker kry nie. Maar ek is ʼn besoeker in jou land en jy en jou brief het mooi gevra. So wat kan ek nou doen?”

Hy kry ʼn slymerige glimlag op sy ronde rooi gesig.

Honderd-en-sewentigduisend.

“Dis reg ja, wat kan jy doen?”

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Ons staar vir mekaar en na ʼn oomblik kyk ons albei gelyktydig terug na my motor en sy manne.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle soek deur die enjin.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle soek deur die binnewerke.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle soek rondom my bande.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle kyk deur my tas en maak seker dat al die kos wat ek ingepak het, geseël is. Ek en Ou Rooies staan en bak in ʼn dik stilte.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Die manne begin stadiger werk tot hul later opgee.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle begin my kar toemaak en Sproetjies stap nader met my sleutel en ʼn botteltjie in sy hande.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

“Nee, Kolonel. Hy’s skoon.”

Honderd-en-sewentigduisend.

Ou Rooies se ogies trek amper toe en Sproetjies gee vir my my sleutels.

Honderd-en-sewentigduisend.

Voordat ek kan dankie sê en weg loop sê Sproetjies, “Jammer, meneer maar wat is dié?” Hy hou die botteltjie in die lig.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

“Glad nie. Dis tuisgemaakte jogurt. My vrou is lief om dit te maak.”

“Kan ek proe? Nog nooit gesien nie.”

Honderd-en-sewentigduisend.

“Jammer man. Gewoonlik sou dit nie pla nie maar die hele spul is vir my vriend hier en dit raak vinnig sleg as dit eers oop is.”

Honderd-en-sewentigduisend.

Sproetjies se gesig val maar hy hou die botteltjie uit vir my.

Honderd-en-sewentigduisend.

Ek steek my hand uit, maar voordat ek dit kan vasvat, glip dit uit sy lang maer vingers deur myne.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Ek het nog nooit iets so stadig sien val nie. ʼn Ewigheid gaan verby. Ons al twee gryp na die botteltjie. Ons albei gryp mis.

Honderd-en-sewentigduisend.

Dit tref die aarde soos ʼn bom wat afgaan en spat die grond vol.

Honderd-en-sewentigduisend.

Sproetjies is op sy knieë.

“Jammer meneer! Ek...” dwaal sy stem af.

Daar lê die blink klippies.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Hy tel een op en hou dit tussen sy maer duim en wysvinger vas.

“Dis mos ʼn diamant.”

Honderd-en-sewentigduisend.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!

Verwante Blogs