Let Wel

het reg geval vir my

2 min lees tyd
09 Maart 2016 deur Virseker

Ek maak die motordeur stadig oop en klim rustig uit. Strek bietjie uit na die lang rit.

“As julle so mooi vra kan ek nou nie weier nie.”

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Vier ander polisiemanne stap versigtig nader, maar met determinasie, soos aasvoëls wat ʼn karkas in die lang gras sien.

Ou Rooies se dun lippe krul effe om die hoeke, “Ons gaan net so bietjie deur jou motor kyk as jy nie omgee nie.”

Honderd-en-sewentigduisend.

Ek glimlag vriendelik, “Natuurlik, solank julle niks breek of steel nie, gaan asseblief voort.”

Honderd-en-sewentigduisend.

Al die deure gaan oop. Hulle loer onder die stoele, onder die matjies en vryf aan alles wat lyk asof dit kan oplig of iets kan wegsteek.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle soek deur my CD’s, paneelkissie, selfs die kossakkies en gemors word deursoek. Binnekant is skoon.

Honderd-en-sewentigduisend.

Die kattebak en die motormasjienkap gaan gelyktydig oop.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hulle vroetel en wikkel aan alles. Nie ʼn doppie bly onopgelig nie. Hulle haal my naweek sak uit.

Honderd-en-sewentigduisend.

Alles word uitgegooi. Ou Rooies se mondhoeke krul al hoe meer. My sokkies, hemde en onderbroeke fladder oral rond. Hulle kyk in my skoene, hou my sjampoe teen die lig en bevoel my tandepastabuis.

Honderd-en-sewentigduisend.

Ek kyk vir Ou Rooies, “waarna soek julle nou eintlik?”

“Iets wat die wet versuur.”

“In my tandepasta?”

Honderd-en-sewentigduisend.

Hy gluur my aan met sy posbusgleuf ogies. “Ons maak net seker hier is niks ongehoord nie.”

Die manne begin stadiger werk. Krap nog goed deurmekaar. Daar is nêrens om meer te soek nie.

Honderd-en-sewentigduisend.

“Ek self glo nou nie in daardie sensitiewe tandepasta nie, maar my vrou koop dit. Glo darem nie dis ‘ongehoord’ nie.”

Ou Rooies se gesig word rooier en sy ogies dunner, lyk amper toe.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Hy lyk asof hy my te lyf gaan gaan. Gelukkig stap sy lang maer mater nader.

Honderd-en-sewentigduisend.

“Nee, Kolonel. Hy’s skoon.”

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Ek en Ou Rooies kyk mekaar diep in die oë. Hy knip eerste en hou my sleutels vir my uit.

“Nou-ma goed dan. Lekker naweek.”

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Dit vat al my krag en verstand om nie die sleutels te gryp en te hardloop nie. 

“Baie dankie en vir julle ook. Sterkte met die soektog.”

Honderd-en-sewentigduisend.

Ek stap stadig weg. Slaan my kattebak toe, dis verstrooid met al my besittings. Ek loop om my motor en klim rustig agter die stuurwiel in.

Honderd-en-sewentigduisend.

Skuif my stoel reg. Draai my spieëltjies sodat ek kan sien. Sit my gordel aan en sluit die motor aan.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Rustig ry ek verby Ou Rooies, sy gesig lyk asof dit gaan ontplof, en knik my kop vir hom.

Honderd-en-sewentigduisend.

Hy knik nie terug nie – gluur net.

Honderd-en-sewentigduisend.

Ek ry rustig deur dieplaashek en krap aan my lies. Die diamante wat ek vasgeplak het, is nog veilig. Ek haal diep asem. Soos wat ek na die plaashuis toe ry begin alles groener lyk.

Honderd-en-sewentigduisend rand. 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!

Verwante Blogs