Let Wel

Onthou om Swart Vrydag en Kubermaandag-kopies te verseker (en ontslae te raak van wat onnodig is)

2 min lees tyd
Versekerings wenke 29 November 2021 deur Virseker

‘n Menigte Suid-Afrikaners trek voordeel uit duisende Swart November-, Swart Vrydag- en Kubermaandag-winskopies, maar vergeet dikwels om nuwe goedere genoegsaam te verseker, óf ou goedere van hul inventarisse te verwyder.

 

“Nuwe grootskerm TVs, skootrekenaars, selfone, voertuig- of tuisbykomstighede is almal lekker maniere om onsself te bederf ná ‘n uitdagende jaar, maar die versekeringselement is uiters belangrik om te onthou,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Om jou versekeringspolis te hersien beskerm jou nie alleen teen skade en misdaad oor die feesseisoen nie, maar is ook ‘n uistekende geleentheid om van onnodige items wat jy dalk nie meer gebruik nie ontslae te raak, van jou polis te verwyder en so ‘n goeie paar rand te spaar.”

 

Virseker bied die volgende wenke om jou kopies slim te verseker en te beskerm:

 

Doen dit NOU: Voeg onmiddellik nuwe items by jou polis om die risiko te vermy dat jy nie ten volle gedek is ten tye van ‘n eis nie.

Versekerde waarde teenoor vervangingswaarde: Maak seker dat die versekerde waarde – die bedrag waarteen jou besittings verseker is - in lyn is met die vervangingswaarde - oftewel die bedrag wat dit jou sou kos om dit teen vandag se pryse te vervang.

Huisinhoud- teenoor draagbare goedereversekering: Huisinhoudversekering dek alles wat sou uitval indien jy jou huis, motorhuis en buitegeboue se dakke sou afhaal en hulle sou omkeer: jou meubels, huishoudelike elektroniese ware, ornamente… Alles wat binne die huis is wat nie gereëld elders geneem word nie. Draagbare goedereversekering, daarinteen, dek die dinge wat jy gereëld saam met jou neem, soos jou selfoon, skootrekenaar, tabletrekenaar, kamera, handsak, horlosie en juwele.

Op datum en in detail: Hou ‘n akkurate, gedetailleerde inventaris van jou versekerde besittings en dateer dit minstens een keer per jaar op. Maak seker dat besonderhede soos jou sekuriteitsmaatreëls, waar jou voertuig snags staan ens. op datum is by jou versekeraar en dat die waarde van jou besittings – insluitend koopstrokies en waardasies op juweliersware - goed gedokumenteer is.

Lees die fynskrif: Gaan jou polisdokumentasie deeglik na sodat jy in fyn besonderhede kennis dra van jou dekking, bepalings en voorwaardes. Moenie net aanneem dat jy gedek is teen alle risiko’s nie.

Bybetalings: Dis slim om jou te vergewis van enige bybetalings wat in jou polisdokumentasie gespesifiseer word. ‘n Laer bybetaling beteken gewoonlik ‘n hoër maandelikse premie, terwyl ‘n hoër bybetaling jou meer sien opdok wanneer jy wel eis, maar jou ‘n hele paar rand op jou maandelikse premie kan spaar.

Wees waaksaam en tref voorsorg: Maak seker dat jy nie jou nuwe aankope “adverteer” deur byvoorbeeld bokse, of die goedere self, te los waar misdadigers dit kan sien nie. Knap jou sekuriteit op om jou nuwe aankope te beskerm.

Sny dit wat onnodig is: Daai ou rekenaar wat lankal nie meer werk nie, of vyf Desembers gelede se nuwe klankstelsel wat jy sedertdien verkoop het, kos jou dalk onnodige geld. Verwyder hierdie items dadelik van jou inventaris.

 

“’n Inkopie- en winskopie tyd van die jaar leen homself goed daartoe om nie alleen geld te spaar deur slim te koop nie, maar ook wyse besluite te neem, jou risiko te beperk en ‘n lekker geldjie terug in jou sak te sit,” sluit Coetzee af.

 

Virseker is 'n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Bpk, 'n gemagtigde nie-lewens finansiële-diensverskaffer (FDV-lisensienommer: 16354) Enige verwysing na "ons", "deur" of "met" op hierdie webwerf/advertensie verwys na Auto & General.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!