Let Wel

Hoe kan jy jou huis teen ‘n brand beskerm?

2 min lees tyd
Versekerings wenke 17 Junie 2021 deur Virseker

Die vernietigende brand wat die Universiteit van Kaapstad in April 2021 laat steier het, het jou ook waarskynlik twee keer laat dink oor hoe brandbestand jou huis is. Moenie houtgerus voel omdat jy dalk in ‘n kompleks woon waar daar geen grasdakke of oop veld naby is nie. 

Die gevaar skuil dikwels binne in jou huis. Dit kan deur ‘n onskuldige aandjie voor die kaggel begin word, ‘n verflenterde elektriese kabel of kabels wat onder ‘n mat of swaar meubels verskuil is. Wat van daardie oorlaaide kragprop wat jy ignoreer? Dalk is jy gek oor kerse, maar ‘n kers té naby aan ‘n gordyn of ‘n stuk lap kan dodelike gevolge hê. So ook ‘n pot op die stoof waarvan jy vergeet het . . . 

Die meeste brande binnenshuis breek in die kombuis uit. Wees dus altyd teenwoordig in die kombuis wanneer daar gekook word. Trek elektriese toerusting se proppe uit wanneer dit nie gebruik word nie, soos byvoorbeeld broodroosters wat krummelvry en afgekoel moet wees voordat jy dit wegbêre. 

Selfs jou waskamer hou risiko’s in. Hou die plukselfilter (“lint”) van jou tuimeldroeër skoon. Die opbou van hitte wanneer die hitte-uitlaat blokkeer is, kan tot ‘n brand lei. Gou ‘n hemp gestryk? Trek die strykyster se prop uit as jy klaar is en voel of dit koel genoeg om aan te raak voordat jy dit wegsit. 

Dieselfde geld vir jou haardroeër en krultang. As dit nie afgekoel is teen die tyd dat jy reg is om uit ‘n vertrek te gaan nie, moet jy seker maak jy het dit op ‘n hittebestande oppervlakte neergesit. 

Is jy of een van jou huismense ‘n roker? Druk daardie sigaret behoorlik dood voordat jy ‘n vertrek verlaat. Om in jou bed te rook, moet te alle tye vermy word. ‘n Enkele kooltjie kan jou bed, matras, mat of klere aan die brand steek.

Slaan ag op waar jy glashouers neersit. Onthou, dit kan as ‘n vergrootglas dien wanneer die son ongenadiglik deur jou venster daarop skyn. En voor jy jou oë kan uitvee, is daar ‘n rokie wat tot ‘n vuurtjie lei.

So kan argeloosheid binne ‘n oogwink jou lewe ingrypend verander.

En met winter nou op hande, dwing dit die brandrisikonaald nog ‘n fraksie dieper in die rooi.

Hou in gedagte, binne 30 sekondes kan ‘n klein vlammetjie ‘n verterende vuur word en binne minute kan jou huis in ‘n inferno verander.

Verwarmers, hetsy elektriese, gas- of ander tipe verwarmers, moet volgens die vervaardiger se instruksies gebruik word. Moenie jou klere daaroor drapeer om droog te word nie – verwarmers is nie tuimeldroeërs nie. Moenie verwarmers aanlos as jy vir ‘n aandjie uitgaan nie. Soos met talle elektriese toestelle in jou huis moet die reffrein vir jou ook wees: “Sit dit af, sit dit af.”

Terwyl ‘n knetterende kaggelvuur een van die geselligste maniere is waarop die winterkoue verdryf kan word, is dit ook ‘n risiko. Daardie vuurtjie moet heeltemal gedoof wees voordat jy uitgaan of gaan slaap. Maak minstens een keer ‘n jaar die skoorsteen skoon en sorg dat daar ‘n vonkvanger in die skoorsteen is. Dit is gewoonlik ‘n produk van fyn gaasdraad wat help keer dat vonke van jou kaggel op jou dak beland. 

WENKE

  • Installeer ‘n brandblusser in jou kombuis, motorhuis en waskamer wat elk spesifiek bedoel is vir brande wat daar kan ontstaan, soos kookolie in die kombuis, brandstof in die motorhuis en materiale in die waskamer.
  • Maak seker jy het ‘n rookalarm op elke vlak van jou huis. Selfs basiese huisalarmstelsels het deesdae ‘n ingeboude rookalarmstelsel.
  • Vuurhoutjies, aanstekers en kerse is nie speelgoed vir kleingoed nie . . . 

BUITE JOU HUIS

  • Plant brandbestande plante soos byvoorbeeld laventel en kanferfoelie
  • Verwyder droë plantmateriaal onder bome en hou jou geute deurentyd skoon van droë blare en stokkies.
  • Onderhandel met jou bure om takke, en waar nodig, selfs bome af te saag as hul bome, soos byvoorbeeld palmbome, ook oor jou erf druip. 

https://www.ifsecglobal.com/fire/6-ways-to-fireproof-your-home/

https://www.holicongsecurity.com/blog/2020/04/10-ways-to-fireproof-your-home/

https://www.latimes.com/projects/fireproof-your-house-guide/

https://iohomeimprovement.com/how-to-fireproof-your-home/

https://clovered.com/how-to-fireproof-your-home-from-wildfires/

https://www.thespruce.com/causes-of-house-fires-1835107

https://www.nfpa.org/Public-Education/Fire-causes-and-risks/Top-fire-causes

https://www.safewise.com/blog/the-most-common-places-that-fires-occur-in-the-home/

https://www.ready.gov/home-fires

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!