Let Wel

Handige wenke vir veiligheid dié feesseisoen

2 min lees tyd
Versekerings wenke 27 November 2020 deur Virseker

Of jy nou Desember koers kies vir vakansie of dalk met Jan Tuisbly se karretjie ry, is veiligheid tuis of op die pad altyd belangrik.

Sonder twyfel was dit ’n moeilike jaar en is dit verstaanbaar dat jy daarom hunker na ‘n tyd van ontspan.

Maar ongelukkig kan jy nie op jou louere rus as dit oor die veiligheid van jou huis of ryding gaan nie – veral tydens die feesseisoen is misdadigers geneig om meer aktief te wees, terwyl onverantwoordelike padgedrag ook toeneem.

Wenke om seker te maak jou huis en eiendom bly veilig teen misdaad of ander skade:

-        Selfs al het jy geen vakansieplanne vir Desember nie, is dit raadsaam om seker te maak jou huisalarm is in ’n goeie werkende toestand. Só kan jou buurman wat met vakansie is, se onbewoonde huis dalk aanloklik vir misdadidgers wees en mag dié kwaaddoeners ook besluit om ’n poging aan te wend om jou woonplek te besoek.

-        Goeie bure sien om na mekaar. As jy met vakansie gaan, stel jou bure en buurtwag in kennis dat hulle jou eiendom kan dophou tydens jou afwesigheid. Maak ook seker hulle weet hoe om jou in die hande te kry en waar jy vakansie hou.

-        Goeie beligting op jou erf dien altyd as ’n goeie afskrikmiddel. Maak daarom nie net seker dat gloeilampe vir buiteligte werk nie, maar koppel dié ligte dalk ook aan tydskakelaars, dag/nag-skakelaars en bewegingsensors.

-        ’n Ander kopseer wat jy wil vermy is ’n warmwatersilinder wat bars terwyl jy iewers uitspan. Skakel dus die warmwatersilinder af voor jou vertrek.

-        Waterlekke, hetsy bogronds of ondergronds, kan derduisende rande se skade aanrig aan jou eiendom en jou waterrekening saam met jou bloeddruk die hoogte in laat skiet. Dis raadsaam om jou hoofwatertoevoer toe te draai by die stopkraan voor jy die pad aandurf.

-        Verwyder bedefbare produkte uit die yskas en vrieskas voor jy met vakansie vertrek, want as daar ’n elekrisiteitsonderbreking vir watter rede ookal is, mag ’n onaangename stank jou dalk verras met jou terugkeer.

Wenke vir die pad:

-        Maak seker dat jou voertuig padwaardig is en dat jou voertuig genoeg vloeistof het (water, remme en enjinolie). Gaan alle ligte (rem-, flikker- en nood-) na en kyk of jou voertuig se ruitveërs in ‘n werkende toestand is. Kyk ook na die loopvlakke en drukking van al die voertuig se bande (insluitend die noodwiel).

-        Padwoede en ongeduld is van die gevaarlikste uitdagings wat motoriste in die gesig staar. Daarom moet jy genoeg slaap kry voor jy die langpad aandurf, want uitputting kan jou geïrriteerd maak.

-        Verminder stres agter die stuur deur vooruit jou roete te beplan. Weet waar die vulstasies, polisiestasies en hospitale op jou roete is.

-        Dra veiligheidsgordels.

-        As jy dalk in ’n ongeluk betrokke is, hou dadelik stil en stel eers vas of iemand beserings opgedoen het. Indien daar beserings opgedoen is, moenie die voertuie beweeg nie en skakel die nooddienste.

-        Moenie onder die invloed van alkohol bestuur nie.

En indien jy ‘n versekeringseis in hierdie tyd moet indien, wil ons seker maak die proses is so eenvoudig as moontlik. Hier is ‘n skakel na ons eiseproses op ons webblad https://bit.ly/VirEise.

Ons hoop hierdie wenke kom handig te pas en jy rus goed uit sodat jy 2021 propvol energie en ywer kan aanpak.

Virseker is ‘n produk van Auto & General. ‘n Gemagtigde versekeraar & FDV.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!