Let Wel

Geboueversekering – Wie betaal wat wanneer iets breek?

2 min lees tyd
Versekerings wenke 21 Julie 2021 deur Virseker

Wanneer dit by geboueversekering kom, wie maak daardie stukkende geut, onklaar hekmotor, daardie teëls wat lig of die skade wat deur vogtigheid veroorsaak is reg? Virseker werp lig op die mees algemene geboueverwante uitdagings wat verbruikers ondervind, sowel as hoe hulle nare, duur verrassings kan vermy.

“Daar’s min dinge meer frustrerend as probleme met geboue, veral wanneer die winter sy ysige greep versterk, of die reënseisoen begin,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Dis selfs erger wanneer dit jou ‘n fortuin kos om te herstel en jy uitvind dat proaktiewe onderhoud – om jou te beskerm teen slytasie – jou kon help om dié krisis geheel en al te vermy.”

Virseker se lys van die mees algemene geboueversekeringseise wat later aan slytasie toegeskryf word, sluit die volgende in:

- Dakke wat lek, insluitend gevalle waar waterdigting verweer of kraak.

- Geute wat geblokkeer word deur plant- en ander materiaal.

- Pype wat lek weens ouderdom en korrosie.

- Hekmotors wat onklaar raak weens ouderdom.

- Teëls wat oplig.

- Stygende vogtigheid.

- Roes

Coetzee sê dat dit in die gevalle hierbo belangrik is om te onderskei tussen slytasie-items en nie-slytasie-items: “Enigiets wat oor ‘n periode van tyd – eerder as tydens ‘n skielike, oonvoorsiene gebeurtenis – plaasvind, kan gesien word as slytasie. Die items in die lys hierbo is goeie voorbeelde. Nie-slytasie is skade wat veroorsaak word deur dinge soos brande, weerlig, storms, vloede of ‘n impak met die gebou. Gevolglike skade sal tipies ‘n versekerde gebeurtenis wees, mits dit as ‘n versekerde gevaar gelys is.”

Hy wys daarop dat dit belangrik is om te onthou dat versekerde gevare spesifiek in polisbewoording aangeteken word. ‘n Polishouer kan slegs eis vir skade wat veroorsaak is deur gevare wat pertinent in die polisbewoording aangedui is.

Virseker wys ander algemene slaggate uit en hoe om hulle te vermy:

Verseker dit teen die volle vervangingswaarde: Maak absoluut seker dat jy jou eiendom teen die volle vervangingswaarde verseker. Hele gebou vervanging, sowel as kleiner eise se uitbetalings, word bereken volgens die persentasie van die volle waarde waarvoor jy ‘n premie betaal. So, wanneer jy slegs ‘n gebou vir ‘n persentasie van sy volle waarde verseker, betaal jy slegs ‘n persentasie van die premie wat jy eintlik opsy behóórt te sit. Gevolglik sal slegs ‘n persentasie van die hoeveelheid wat jy eis uitbetaal word. Dis standaarpraktyk vir meeste, indien nie alle, versekeraars.

 

Slim kosteberekening: Daar is verskeie maniere om geboue se vervangingskoste akkuraat te bereken. Gaan jou huisleningstate na, vra eiendomsagente en leningskenners of gebruik aanlyn berekeningsplatforms op betroubare eiendomswebtuistes. Neem die totale koste in ag om ‘n gebou van die grond af op te bou – argitekte, ingenieurs, sloping, afvalverwydering, boumateriaal, loodgieterswerk, elektriese werk ens.

Huidige waarde: Dis noodsaaklik om seker te maak dat jou eiendom se waarde op datum bly. Die versekerde hoeveelheid mag dalk jaar na jaar verhoog word, in ooreenstemming met inflasie, vir beide geboue en huisinhoud, maar opgraderings, veranderinge en opknappingswerk – wat ‘n impak op die waarde kan hê – word nie in ag geneem nie. Wanneer jy jou polis se hernuwingsdokumente ontvang, spandeer ‘n paar minute om te dink aan veranderinge wat jy aangebring het en oorweeg om die polis op te dateer.

Kyk verby die groot goed: Sommige mense verseker net die “hoërisiko” items wat tipies tydens ‘n inbraak gesteel sal word, maar dink nie aan wat sou gebeur indien ‘n huis heeltemal verwoes word soos in die geval van ‘n brand nie. Om als teen vandag se pryse te vervang kan aansienlike kostes beloop, so dis ‘n móét om deeglik te oorweeg.

Lees die fynskrif: Moenie aanvaar dat als gedek word deur jou versekering nie. Neem die tyd om die dokumentasie deeglik deur te lees en die bepalings en voorwaardes van jou dekking deeglik te verstaan. Weet waarvoor jy gedek is, en wat uitgesluit word, in jou spesifieke polis. 

Ken die proses: Sodra ‘n eis geregistreer is en ‘n verskaffer uitgestuur is om ‘n aanvanklike skadeverslag te doen, sal ‘n spesialis-kontrakteur tipies uitegestuur word om ‘n verdere skadeverslag te doen en ‘n kwotasie saam te stel.

Voorkoming is beter as genesing: Laat jou eiendom gereëld nagaan, of gaan dit self na, om seker te maak dat die dak, geute, ondersteuningsstrukture, pype, bedrading ens. in ‘n goeie toestand is, verder as net op gesigswaarde. Dis veral belangrik met die verandering van seisoene. Doen die nodige voorkomende onderhoud om duur skade te vermy.

“As jy onseker is oor enige van die punte wat hier uitgelig is, is dit wys om jou versekeraar dringend te kontak en duidelikheid te kry,” sluit Coetzee af. “Wanneer jy seker maak dat jy al die t’s kruis en die i’s stip, is goeie, omvattende geboue- en huisinhoudversekering jou grootste bondgenoot in tye van nood.”

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!