Let Wel

Dié 7 Versekeringsboksies Slaan Verbruikers Gereëld Oor

2 min lees tyd
Versekerings wenke 28 Januarie 2022 deur Virseker

Brande, vloede, haelskade, rowe, huisbrake, kapings en onluste is slegs ‘n paar van die risiko’s wat Suid-Afrikaners verlede jaar moes trotseer. ‘n Proaktiewe benadering tot risiko en deeglike beplanning kan 2022 verbruikers se jaar van volkome gemoedsrus maak.

“’Dit sal nie met my gebeur nie’ is een van die grootste foute wat mense maak, en dis dikwels juis wanneer jy net gou daai kans vat, net gou iets oorslaan of net gou ‘n besluit neem sonder genoegsame inligting dat die noodlot jou tref,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Die goeie nuus is dat jy - deur net ‘n bietjie tyd opsy te sit, jou versekering in detail na te gaan en goed te beplan vir die jaar wat voorlê - hierdie risiko’s tot ‘n minimum kan beperk.”

Virseker lig die volgende punte uit wat vebruikers soms geneig is om oor te slaan:

1. Versekerde waarde teenoor vervangingswaarde: Maak dubbel seker dat die versekerde waarde – die bedrag waarteen jou besittings verseker is - in lyn is met die vervangingswaarde - oftewel die bedrag wat dit jou sou kos om dit teen vandag se pryse te vervang.

2. Die verskil tussen huisinhoud- en draagbare goedereversekering: Huisinhoudversekering dek alles wat sou uitval indien jy jou huis, motorhuis en buitegeboue se dakke sou afhaal en hulle sou omkeer: jou meubels, huishoudelike elektroniese ware, ornamente. Alles wat binne die huis is wat nie gereëld elders geneem word nie. 

Draagbare goedereversekering, daarinteen, dek die dinge wat jy gereëld saam met jou neem, soos jou selfoon, skootrekenaar, tabletrekenaar, kamera, handsak, horlosie en juwele.

3. Geboue-eienaar, huurder en regspersoon: Maak seker dat jy, in enige van hierdie rolle, jou versekeringsverpligtinge nakom, dat jy voldoende verseker is maar geen onnodige of oorvleuelende items op jou polis het nie.

4. Maak seker dat jy SASRIA-dekking het: SASRIA, wat staan vir ‘The South African Special Risks Insurance Association’, is ‘n entiteit wat deur die Staat besit word. Dit bied dekking vir verlies of skade aan versekerde eiendom as ‘n direkte resultaat van burgerlike onrus, insluitend oproere, stakings en publieke wanorde. 

By Virseker word SASRIA-dekking byvoorbeeld outomaties by jou voertuigpolis ingesluit, mits jou voertuig op die oomblik gefinansier is en jy ons daarvan in kennis stel tydens die onderskrywingsfase van jou polis. Nadat die voertuig afbetaal is, sal jou Sasria dekking voortgaan vir so lank as wat jou versekeringspolis in plek bly.

Dis egter baie belangrik om met jou versekeraar in kontak te tree en dubbel seker te maak dat SASRIA-dekking by jou premie ingesluit is. Indien jou voertuig nie gefinansier is wanneer jy die polis uitneem nie, is Sasria dekking opsioneel en sal dit nie outomaties ingesluit word nie. 

Dieselfde geld vir wanneer jy jou huis of huisinhoud verseker – SASRIA-dekking is opsioneel, so maak eerder een honderd persent seker.

5. Bepalings en byvoordele: Gaan jou versekeringspolis na vir enige byvoordele wat gratis of teen ‘n nominale bedrag aan jou gebied word, soos padbystand, wegsleepdienste, huisbystand (vir dienste soos loodgieters, elektrisiëns, vensterpassers en slotslypers), sowel as mediese-, regs- en traumabystand en maak daarvan gebruik.

Maak ook seker dat jy kennis dra van jou spesifieke dekking, bepalings en voorwaardes.

6. Maak seker dat jou besonderhede akkuraat en op datum is: Dinge soos jou inventaris / lys van versekerde items, die adres waar jou voertuig snags staan, die gereëlde bestuurder van jou voertuig en sekuriteitsmaatreëls wat in plek is, is uiters belangrik om met jou versekeraar te deel en gereëld op te dateer. Dit kan jou ook dalk net ‘n gesonde bedrag geld op jou premie spaar.

7. Pasgemaakte versekering: Vra jou versekeraar hoe hul aanbieding aangepas kan word by jou behoeftes en begroting. Jy mag dalk elke sent moet omdraai en vir NOU net die mees basiese versekering vir jou voertuig en huisinhoud benodig. Dalk het jy die behoefte aan meer omvattende versekering vir jou huis, motor en besittings, tesame met ekstra produkte soos ‘n persoonlike ongeluksplan, regsbystand en ‘n begrafnisplan. Dalk is jy die eienaar van ‘n onderneming, wat beteken dat besigheidsversekering moontlik ‘n beter stel oplossings vir jou bied.

“Om jou huiswerk deeglik te doen en goed te beplan wanneer dit by versekering kom, kan nie alleen jou risko beperk en vir jou ‘n paar rand terug in jou sak besorg nie, maar stel jou ook in staat om 2022 met gemoedsrus aan te pak,” sluit Coetzee af.

Virseker is 'n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Bpk, 'n gelisensieërde nie-lewens finansiële-diensverskaffer (FDV-lisensienommer: 16354) Enige verwysing na "ons", "deur" of "met" op hierdie webwerf/advertensie verwys na Auto & General.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!