Let Wel

Winterwenke vir jou huis en jou wiele

2 min lees tyd
Perskamer 09 April 2021 deur Virseker

Met die naderende winter is dit belangrik dat twee van jou kosbaarste bates piekfyn moet wees om potensiële skade en onnodige uitgawes te beperk. 

JOU HUIS

Wat kan jy dan nou meer koester as om knus en warm in jou huis te wees terwyl die winter buite voorttier? Maar as jy nie nou al voorsorg tref nie, kan daardie knus gevoel ‘n enorme knou toegedien word. 

Hier is 5 van die belangrikste aspekte waarop jy nou moet fokus: 

  1. Dak
    Kry ‘n bekwame persoon om op jou dak te klim om seker te maak daar’s nie los dakplate of teëls nie, en maak dit reg voor die winter kom.
  2. Geyser en waterpype
    Wanneer laas het jy dit laat nagaan? Isoleer beide as jy dit nie reeds gedoen het nie. Dit gaan nie net jou elektrisiteitsrekening help verlaag nie, maar ook die risiko van gebarste waterpype verminder.
  3. Vensters en deure
    Maak al die deure en vensters in jou huis dig toe? Indien nie, moet jy dit met die regte produkte verseël sodat jy nie onnodige waterskade óf verlies aan daardie koesterende hitte binne jou huis tot gevolg het nie.
  4. Skoonmaaktyd
    Maak seker jou geute is skoon sodat die water nie opgaar en lekplekke in jou huis veroorsaak nie; kaggel-skoorstene moet ook skoongemaak word om onder andere die opbou van skadelike koolstofmonoksied te verhoed.
  5. Tuin-onderhoud
    Is daar bome op jou erf? Raak ontslae van alle dooie takke as daar is. Sommige streke loop onder sterk wind deur gedurende die winter – maak seker al jou tuinmeubels en -gereedskap is beveilig sodat dit nie rondgewaai kan word en skade kan veroorsaak nie.

JOU MOTOR

Geduldig, gedienstig, gedwee – maar nie noodwendig die geval wanneer die koue toeslaan nie.

Hier is 5 van die belangrikste aspekte waaraan jy voor die winter aandag moet gee:

  1. Battery, slotte en skarniere
    Toets jou batteryvlakke, maak die pole skoon en behandel dit met ‘n battery-beskermende sproei teen roes en klammigheid. Sproei ook smeerolie in al die motor se deurslotte en skarniere.
  2. Vriesweermiddel
    Gaan ook jou motor se vriesweermiddelvlakke na terwyl jy onder die enjinkap inloer om seker te maak jou enjin is beskerm wanneer temperature baie laag daal. Uiterste koue temperature kan jou enjin laat kraak.
  3. Ruitveërs
    Maak jou ruitveërs lang reënstrepe of vee dit net sekere gedeeltes van jou voorruit wanneer jy dit gebruik? Belê in ‘n nuwe stel ruitveërs (ook agter waar nodig) vir maksimum sig te alle tye.
  4. Ligte
    Moet nooit as vanselfsprekend aanvaar al die motor se ligte werk nie. Gaan dit gereeld na en hou dit skoon vir maksimum ligvrystelling en sigbaarheid in slegte weer.
  5. Bande
    Gladde bande is ‘n risiko vir almal op die pad, veral onder nat toestande waar dit jou maklik kan laat gly. Toets die wielpatroon vir genoeg ry-oppervlakte, wees op die uitkyk vir krake en swak plekke aan die kant van die bande en maak seker die banddruk is reg.
Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!