Let Wel

Virseker Trust Skenk R1 Miljoen Vir COVID-19 Verligting

2 min lees tyd
Perskamer 21 Mei 2020 deur Virseker

Die Virseker Trust het in April R1 miljoen vir COVID-19 verligting geskenk om te help verseker dat van die mees kwesbare gemeenskappe in Suid-Afrika toegang tot kos het, en dat leerlinge wat op die oomblik nie skool toe kan gaan nie, flink en volstoom kan aanhou leer.

Dié skenking is gemaak aan Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s inisiatief met die doel om behoeftiges met noodvoeding te help, sowel as aan die Beweging se Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat sorg dat leerders op Wolkskool – ‘n leidende e-leerstelsel – voortgesette onderrig tydens die Covid-19-krisis kan kry.

Meer as 53 000 leerlinge het reeds gedurende die COVID-19 krisistyd vir Wolkskool geregistreer.

“By Virseker gebruik ons die slagspreuk: ‘Jou versekering. Jou mense. Jou taal.’ Met die COVID-19 nasionale krisis lê ons veral klem op die tweede punt: ons mense. Mense regoor Suid-Afrika is in nood, en die krisis waarin weerloses, veral bejaardes en kinders, verkeer – ‘n fisiese honger sowel as ‘n intellektuele honger na leer en ontwikkeling – lê ons baie na aan die hart,” sê Neil van der Walt van Virseker.

“Ons staan hier op die skouers van elke Virseker-polishouer wie se hart warm klop vir Afrikaans, en wie se premies gedeeltelik aan die Virseker Trust oorbetaal word, sodat hulle met trots kan sê: Ons praat Afrikaans, ons sing in Afrikaans. Ons leer en speel rugby in Afrikaans en doen besigheid in Afrikaans. Met Suid-Afrika in nood, is dit nou nie net ons geleentheid nie, maar ook ons PLIG, om te help in Afrikaans.”

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!