Let Wel

Veldry veiligheidswenke van die kenners

2 min lees tyd
Perskamer 01 Oktober 2020 deur Virseker

Met Suid-Afrikaners wat nou meer vryelik mag reis, beplan baie om die dolle gejaag agter te laat en dit te verruil vir die bosveld. Virseker het ‘n veldry veiligheidsgids saamgestel om te verseker dat jy jou bosveld-padvat veilig kan geniet!

“Vir sommige is veldvoertuie meer as net vervoer. Dis ‘n leefstyl,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Of jy iemand is wat net van ‘n hoër rithoogte hou, óf graag taai en uitdagende roetes aanpak, is dit noodsaaklik om seker te maak dat jy die voertuig so veilig as moontlik hanteer terwyl jy die vreugdes daarvan geniet.”

Coetzee, met die raad van kenner, Christo van Loggerenberg – hoofinstrukteur by die Land Rover Experience Centre – bied die volgende goue reels vir veldrit-entoesiaste.

  • Veiligheid eerste: Maak seker dat jou voertuig padvaardig is en goed onderhou word. Wees deeglik bewus van jou omgewing en moenie ‘n oorambisieuse roete aanpak nie. Gaan eerder óm ‘n uitdagende hindernis.
  • Ken jou voertuig: Of jy ‘n ouer voertuig óf een met die nuutste tegnologie het, maak seker dat jy goed vertroud is met sy kenmerke, vermoëns en beperkings.
  • Spoedslim: Die sleutel tot veldrit veiligheid is “so stadig as moontlik, so vinnig soos nodig”, wat impliseer dat ‘n mens net so vinnig moet beweeg soos wat absoluut nodig is om ‘n hindernis te oorkom, maar eerder stadig en berekend moet beweeg indien moontlik.
  • Gebalanseerde vrag: Maak seker dat jou voertuig nie oorlaai is nie en dat die vrag en/of bybehore behoorlik vas en gebalanseerd is. Een brandstofkan uit plek kan jou voertuig se balans noemenswaardig affekteer.
  • Kies slim met bybehore: Kies bybehore wat jou voertuig sal help om sy taak optimaal te verrig. Belê in goeie veiligheidstoerusting vir enige veldrit-noodgeval. Kies die regte bande vir die tipe terrein wat jy gaan aanpak. Kies voor- en agterbuffers of bosbrekers, sowel as glyplate, wat jou voertuig beskerm, maar steeds die nodige grondvryhoogte bied. Hou ‘n gereedskap- en onderdelestel byderhand vir basiese voertuig- en bandherstelwerk. Hê ook ‘n kompressor byderhand vir wanneer jy bande moet pomp. Belê in ‘n goeie hoogligdomkrag, traksieplate en selfs ‘n wenas om jou uit moelike situasies te kry. Belê ook in energie-doeltreffende elektriese stelsels om jou omgewing te verlig en maak seker dat jy ‘n goeie stel laaikabels handig het.

    • Belangrik om te let: Een van die mees gewilde bybehore is ‘n verhoogde luginlaatpyp, waarna gereëld as ‘n “snorkel” verwys word. In teenstelling met die oortuiging dat dié tipe luginlaatpyp ‘n voertuig in staat stel om in dieper water te kan ry, is dit éíntlik ontwerp vir stowwerige toestande, waar daar minder stof op ‘n hoër asemhalingspunt is. Volgens Van Loggerenberg word die watertrotseringsvermoë (“wading specification”) van ‘n voertuig deur ver meer as net die luginlaatpyp bepaal: “Ons moet ook dinge soos elektroniese toestelle, ewenaar- en ratkas asemhalingstoestelle, alternators, water toegangspunte ens. in ag neem. Indien selfs net een van hierdie faktore oorgeslaan word in die voorbereiding van jou voertuig vir dieper water, kan dit ernstige skade veroorsaak.”

Wanneer dit by praktiese wenke kom om ‘n roete veilig en effektief aan te pak, het Van Loggerenberg se omvangryke opleidingservaring hom geleer dat bestuurders gereëld oorweldig word deur die pure hoeveelheid reëls en beginsels om te onthou. Gevolglik het hy die mees belangrike wenke vereenvoudig tot wat hy die “3 groepe van 3” noem.

1ste groep van 3: Naderingshoek, Oorbruggingshoek, Vertrekhoek

Dit verwys na of jou voertuig aan die bou- en verrigtingsvereistes voldoen om dit tot in, en deur, ‘n hindernis te maak.

2de groep van 3: Verkenning, Risiko-assessering, Verantwoordelikheid

Verkenning of inspeksie van jou beplande roete is van kritieke belang. Jy moet seker wees dat jou voertuig ook dit wat aan die ánder kant van ‘n hindernis is kan hanteer. Daar mag byvoorbeeld ‘n diep poel water aan die ander kant van die heuwel wat jy aanpak wees – een waaruit jou voertuig dalk nie kan kom nie.

Risiko-assessering sluit enige moontlike risiko vir jou, jou voertuig en die omgewing in. Dit sluit gate, klippe, bome, hellings en die moontlikheid om te gly of om te val in. Die pad wat jy kies mag dalk teen ‘n helling wees wat jou voertuig kan hanteer, maar ‘n rots wat in die pad is mag jou voertuig dalk verby sy kantelpunt dryf.

Verantwoordelikheid hou verband met hoe jy reageer op jou assessering hierbo. As daar ‘n risiko is vir enige iemand om seer te kry, enige iets om beskadig te word of vir die omgewing om skade te ly, soek eerder ‘n veiliger roete.

3de groep van 3: Stelsels en ratte, Stuur, Pedale

Stelsels en ratte: Dit is noodsaklik om die meganiese en elektroniese hulpmiddels tot jou beskikking vir ‘n spesifieke uitdaging in te span. Dit behels om te besluit watter stelsels - soos afdraandbeheer, terreinreaksie, dinamiese stabiliteitsbeheer, ewenaarslotte, hoë- of laestrek ratverstellings ens. – aan of afgeskakel moet word.

Stuur: Dis van kritieke belang om ‘n lyn van stuur te kies wat jou die beste kans gee om ‘n spesifieke hindernis te oorkom. Hê ook ‘n plan B, ingeval jou oorspronklike lyn nie die gewensde resultate oplewer nie.

Pedale: Dis baie belangrik om die gebruik van pedale – veral die versneller en rem – te balanseer om presies die regte hoeveelheid krag en wringkrag, sowel as presies die regte hoeveelheid remkrag, toe te pas waar nodig. Selfs al doen moderne voertuie meeste van die werk, is dit noodsaaklik om hierdie vaardighede in te skerp, omdat ‘n fout tot ‘n ramp kan lei.

Coetzee sluit af: “Op die uiteinde is dit wys om te alle tye ingelig, goed voorbereid en waaksaam te wees en natuurlik omvattende versekering in plek te hê, ingeval die uitstappie in meer van ‘n bosbreek ontaad as wat jy beplan het!”

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!