Let Wel

Tien vrae aan Toks ’n Tjops se Vaatjie

2 min lees tyd
Perskamer 13 November 2020 deur Virseker

Toks ’n Tjops, wat deur Virseker geborg word, is vir seker ’n instelling op Afrikaanse televisie. Ons het met Vaatjie, wat een van dié gewilde kletsprogram se aanbieders is, opgevang.

 1. Wat dink jy is Toks ’n Tjops se wenresep? 

Toks ’n Tjops het al die regte bestanddele om elke Vrydag iets lekker vir Suid-Afrikaners voor te sit: sport, musiek en braai! Boonop is die aanbieders soos familie vir mekaar en dit kom duidelik deur in die episodes.

 2. As jy een ding moet uitsonder wat vir jouself die lekkerste vir jou is om te braai, wat is dit? 

Skaaprib is my nommer-een keuse, maar beesstert is kort op die hakke.

 3. Toks ’n Tjops is sedert 2011 op die lug, watter episode(s) of oomblikke is vir jou persoonlik baie spesiaal? 

Dit is sonder twyfel toe oom Louis Nel, wat die president van die Blou Bulle was, kom kuier het en toe vir Breyten gesê het hy mag dalk altyd met my die spot dryf oor ek ’n trotse Blou Bul-ondersteuner is en toe oorhandig hy ‘n Blou Bul-das aan my en nooi my boonop om in sy losie rugby te kom kyk. Toe ek in daardie losie instap het ek op my knieë gesak en begin huil! Ek sal dit nooit vergeet nie en elke keer as ek nou daaraan dink, dan wil ek sommer ‘n traan pik. Twee ander episodes wat vir my spesiaal is, is toe ek Naas Botha ontmoet het en natuurlik toe Bakkies Botha vir my ’n getekende rugbytrui gebring het.

 4. Wie is jou gunsteling Suid-Afrikaanse sportster en hoekom? 

Dis sonder twyfel die legendariese Bakkies Botha. Hy was my held as jong seun en vandag steeds beïndruk sy nederigheid my – veral as ek kyk wat hy vir mense en vir sport doen. Siya Kolisi moet ek uitsonder, want hy het immers onder meer die Springbokke gelei tot wêreldkampioene in 2019.

 5. Beskryf elk van Toks ’n Tjops se aanbieders as ’n gereg? 

As ’n gereg  sal Toks ‘n beesstertpot wees – daardie pot waar die vleis murgsag is en van die been af val met ’n geurige sous en groente. Toks is iemand wat opstaan vir ons en wat omgee, terwyl hy in ‘n geselskap dikwels humor inbring, mense bymekaar snoer en geliefd is. Breyten is ‘n skaaptjoppie - ‘n gunstelling by elke braai en ‘n eenvoudige snit wat min nodig het. Hy is iemand wat mens net van hou, maar nederig bly en op ‘n eenvoudige manier weet om iemand spesiaal te laat voel. Janina sal ek as ‘n seekos-paella beskryf - vol geur en almal het hulle eie weergawe van die resep! Janina is uniek en is nie bang om mens aan nuwe dinge bloot te stel nie – soos Converse-skoene vir Toks of ’n nuwe haarkleur vir my baard! Sy weet hoe om dinge interessant te hou.

 6. As jy ’n Afrikaanse liedjie was, wat sou die liedjie se naam gewees het? 

Kom Braai by my.

 7. Wat is jou gunsteling Afrikaanse sêding of woord?

“Hoe lykit nou?”

 8. Moet ’n braaibroodjie blatjang op hê of nie? 

Sonder twyfel moet daar blatjang op wees, maar dit MOET Mrs Balls wees.

 9. Braai jy met houtskool of hout? 

Ek braai met Brikette, en hout (as kombinasie).

10. Jou beste braaiwenk? 

Ek het twee beste braaiwenke: 1) Baie mense maak ’n braairooster skoon met ’n ui, maar ’n suurlemoen wat in die helfte gesny is, maak ’n rooste makliker skoon. 2) ’n Steak is op sy sagste as dit teen kamertemperatuur op die braairooster gesit word.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!