Let Wel

Moedertaaldag: Bekendes se gunsteling Afrikaanse woorde

2 min lees tyd
Perskamer 20 Februarie 2022 deur Virseker

Op 21 Februarie 2022 vier ons Internasionale Moedertaaldag en die span by Virseker – Suid-Afrika se enigste trots-Afrikaanse versekeringsproduk - het by ‘n paar bekendes gaan aanklop om te hoor wat hul gunstelingwoorde in een van die mees kleurryke tale ter wêreld is.

“Afrikaans is een van die jongste amptelike tale ter wêreld en word vanjaar, op 8 Mei, 97 jaar oud,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Dit is die derde mees gesproke taal in Suid-Afrika, naas IsiZulu en IsiXhosa, en daar’s ‘n paar dinge wat eenvoudig in geen ander taal heeltemal só LEKKER sê nie.”

Hier’s wat bekendes vir Virseker sê hul gunstelingwoorde is:

Boer Soek ‘n Vrou-aanbieder, Marciel Hopkins, het iets soets in gedagte met spookasem, sanger, Willem Botha, pampoenpoffertjie, terwyl kosskrywer en TV-sjef, Herman Lensing, hoewel hy ook na iets smullekker neig, pannekoek verkies.

Suidooster-aktrise, Annelisa Weiland hou van die woord wyn – iets wat letterlik en figuurlik sag op die tong is.

Aktrise, Cintaine Schutte, meen dat niks wanorde heeltmal so goed illustreer soos die woord befomfaai nie, en TV- en radio-aanbieder, Tracey Lange sê dat ‘n mens op geen ander manier iemand kan terg of die stryd kan aansê – veral as hulle jou goed befomfaai - soos met die woord karnuffel nie.

So gepraat van ‘n effense konflik: Binnelanders-akteur, Germandt Geldenhuis voel daar’s geen beter uitdrukking vir iemand wat werklik gevaarlik is soos die woord meedoënloos nie.

As konflik en die wêreld se meedoënloose aard jou uitput, meen Suidooster-akteur, Dean Smith, dat ‘n mens op jou lekkerste slaap wanneer jy net gou ‘n bietjie dut. Binnelanders-aktrise, Kim Cloete, het ‘n vermoede dat hy reg is, maar in Afrikaans is dit nie sommer net ‘n vermoede nie, maar ‘n spesmaas.

Onlangse Boer Soek ‘n Vrou-deelnemer, Niel Bruwer, kon op hierdie unieke woorde reageer met “Sjoe, maar dis omtrent ‘n mondvol!”, maar hy verkies “Skote Petoors! Maar Afrikaans is elke keer in die kol met ‘n woord wat in geen ander taal heeltemal so mooi van die lippe af rol nie!”

Afrikaans is ook nie net mooipraatjies nie – dis inspring en dóén:

Tot op datum het die Virseker Trust – waaraan ‘n persentasie van polishouers se maandelikse premie toegeken word – reeds meer as R90 miljoen in Afrikaans belê. Die klem word veral gelê op Afrikaanse kunste, opleidings- en onderwysinisiatiewe wat na aan die harte van die Afrikaanssprekende gemeenskap lê, sportontwikkeling en ondersteuning van dié in nood.

Voorbeelde sluit in Akademia – ʼn klasleidende Afrikaanse universiteit, die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, die Skole Ondersteuningsentrum en Wolkskool, die WEET e-naslaangids vir leerders, verskeie studielenings vir verdienstige studente, Aardklop, Innibos, die eeu oue Virseker Beker-skolerugbytoernooi en ʼn R1 miljoen-skenking aan Covid-19 verligtingsprojekte.

“Op Moedertaaldag 2022 vier ons Afrikaans – ‘n taal wat soveel meer doen as net lekker praat, wat in minder as ‘n honderd jaar grense verskuif het in die sakewêreld, die kunste, op die sportveld en ook aan die liefdadigheidsfront,” sluit Coetzee af. “Dis ‘n taal wat sy sê sê, maar dapper genoeg is om daad by die woord te voeg en sy deel te doen om ‘n land te bou waarop ons, ons kinders en geslagte daarna trots kan terugkyk en sê, ‘Kyk! Dít is wat Afrikaans en sy mense gebou het!’”

Virseker is ‘n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Beperk, ‘n gemagtigde Versekeraar en Finansiële Diensverskaffer.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!