Let Wel

Lugbraaiers – jou alles-in-een vir ‘n nuwe avontuur in die kombuis

2 min lees tyd
Perskamer 30 April 2021 deur Virseker

Lugbraaiers is relatief nuut op die mark in Suid-Afrika, maar sedert bekendes, waaronder die vuurvreter-glanssjef Gordon Ramsey in 2016 sy genoeë met die gerief van hierdie kompakte kookgerief uitgespreek het, het lugbraaiers ‘n gonswoord geword.

Wag, wat? Braai met lug? Inderdaad. Baie warm lug – en jy braai heerklike goue kraakvars tjips sommer tjoef-tjaf van bevrore tot gaar sonder die reuk van warm olie wat in jou neusgate opstuif. Regte, egte tjips wat 4-6 gram vet bevat in kontras met diepgebraaide tjips wat tot 17 gram vet per porsie kan beloop.

Maar die kompakte braaier is veel meer as net ‘n lekker tjipsmaker.

Gek oor pizza? Trek jou lugbraaier nader. Doen dieselfde wanneer jou mond water vir ‘n heerlike sappige burger of geroosterde groente. Ook die soettand kan nader skuif, want glo dit of jy wil of nie – jy kan selfs ‘n koek in jou lugbraaier bak.

Selfs die kletskoningin Oprah Winfrey het voor die vernuftige lugbraaier geswig, soveel so dat dit in 2020 hoog op haar gewilde gunstelinglysie beland het.

In dieselfde jaar het Amerikaners volgens die marknavorsingsgroep NPD bykans 12 miljoen lugbraaiers aangekoop. En die belangstelling neem steeds toe.

Natuurlik het die inperking mense gedwing om meer tuis te wees. So het talle die genot van kosmaak ontdek en  herontdek. En nuut-aangeleerde vaardighede gaan nie gou verdwyn noudat vryheid van beweging nie meer so streng aan bande gelê word nie.

Kook gaan daar gekook word met hernude ywer en plesierigheid. En die lugbraaier is ideaal daarvoor.

Hoe werk ‘n lugbraaier?

Dis losstaande en betreklik kompak. En dit is alles behalwe ‘n braaier in die konvensionele sin van die woord.

Om mee te begin: Verby is die dae van diepoliebraai. ‘n Fyn lagie olie word oor die kos gesprinkel voordat jy dit in die lugbraaier sit.

Die gaarmaakproses is warm lug wat tot sowat 200 °C verhit word en binne-in die oond gesirkuleer word deur ‘n tegniek wat in die bedryf bekend staan as Rapid Air Technology. Dit lewer ‘n konveks-effek wat die kos kook en verbruin, buite krakerig en binne sag.

Hoe veilig is dit om te gebruik?

Net soos wanneer jy jou kos in ‘n diepbraai gaarmaak, kan jy enige tyd tydens die gaarmaakproses jou mandjie uithaal en dit wat daar in is, rondskommel. Die groot bonus? Geen gevaar van olie wat kan spat nie.

Proe dit anders wanneer jy ‘n lugbraaier gebruik?

Hier is die goue reël: As dit wat jy in jou lugbraaier sit, smaaklik is – sal dit ook smaaklik ná die gaarmaakproses wees. Jou kooktegniek sal ook deurslaggewend wees. Moenie die mandjie oorlaai nie, sodoende sal alles in die mandjie egalig gaar word.

Is dit swaar op jou sak?

Van die vervaardigers beweer hul lugbraaiers is 1,5 keer vinniger as ‘n konvensionele elektriese oond. Boonop gebruik jy gemiddeld 70-80% minder olie as wanneer jy jou tjips en hoender in diepolie braai.

Grootte van lugbraaiers

Van die meer kompakte lugbraaiers is perfek vir twee mense, terwyl daar ook groter weergawes beskikbaar is waarmee jy gemaklik vir ‘n gesin van 4 voorsiening kan maak.

In eg Suid-Afrikaanse tradisie – kom ons braai . . . lugbraai, natuurlik!

Versekering vir jou lugbraaier

By Virseker is jou lugbraaier gedek onder jou huisinhoudversekering. Maak seker jy praat met ‘n konsultant om die regte dekking te kry vir jou huisinhoud.

Virseker is ‘n produk van Auto & General, ‘n gemagtigde versekeraar en FDV. B’s & V’s aanlyn.

 

Bronne:

 

https://www.nytimes.com/2019/04/01/dining/air-fryer-recipes.html

 

http://www.multivu.com/players/English/7894851-philips-rapidair-airfryer/

 

https://www.tasteofhome.com/article/what-is-an-air-fryer/

 

https://www.oprah.com/gift/oprahs-favorite-things-2020-yedi-total-package-air-fryer-oven-xl?editors_pick_id=78562

 

https://www.npd.com/wps/portal/npd/us/blog/2020/marketing-to-the-lingering-effects-of-pandemic-lifestyle-at-home/

 

https://www.thespruceeats.com/how-does-an-air-fryer-work-4693673

 

https://www.grubstreet.com/2020/12/why-america-is-still-obsessed-with-air-fryers.html

 

https://www.webmd.com/food-recipes/air-fryers

 

https://heavy.com/home/2018/10/air-fryer-vs-deep-fryer/

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!