Let Wel

Keer só dat vals advertensies jou fop

2 min lees tyd
Perskamer 12 Julie 2021 deur Virseker

Selfone en ander elektroniese toestelle, meubels, motors, troeteldiere, vakansies en meer word menigmaal aanlyn teen baie aanloklike pryse aangebied en soms is dit wérklik baie goeie kopies. Misdadigers gebruik egter gereëld fop-advertensies om niksvermoedende winskoopjagters enige iets van ‘n paar honderd, tot tienduisende rande te laat opdok vir ‘n kat in die sak. Virseker maan Suid-Afrikaners om te alle tye waaksaam te wees.

“Daar’s min dinge erger as om te besef dat jou hardverdiende geld in ‘n boef se beursie opgeëindig het, terwyl jy leë hande staan,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Dis baie maklik om ‘n vals advertensie aanmekaar te flans, dit professioneel te laat lyk en so aanloklik te maak dat dit ‘n mens ‘winskoopblind’ maak. ’n Oortuigende booswig gekombineer met ’n tekort aan gesonde skeptisisme aan die kant van die slagoffer maak hierdie tipe misdaad ‘n baie gereëlde verskynsel.”

Virseker bied die volgende wenke om vals advertensies uit te ken en jouself te beskerm:

  • Doen jou huiswerk: Doen deeglike navorsing op die spesifieke item wat jy graag wil koop, maak seker wat die spesifikasies daarvan is en vind uit wat redelike pryse daarvoor is.
  • Gebruik vertrouenswaardige platforms: Gratis advertensieplatforms is volop, so gebruik eerder dié wat gedetailleerde inligting van verkopers vereis, verkopers verifieer en aktief op fop-advertensies toeslaan.
  • Te goed om waar te wees: Wanneer ‘n kopie te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik. Dis beter om verby te hou. Wees veral paraat op “teruggeneemde” items en “dringende verkope”.
  • Duiwel in die detail: Advertensies met meer breedvoerige en akkurate besonderhede is gewoonlik meer vertrouenswaardig. Maak seker dat die item, beskrywing en foto ‘n honderd persent ooreenstem met mekaar én dit wat jy van die item weet. As die model van ‘n item byvoorbeeld verkeerd is, of die advertensie dui aan dat dit ‘n privaatverkoper is, maar die foto is by ‘n handelaar geneem, wees versigtig. Hoe meer foute, hoe groter die kans dat dit ‘n slenter is.
  • Vra die nodige, basiese vrae met die intrapslag: Wanneer jy die verkoper kontak,
  • vra of die item nog beskibaar is.
  • Bevestig die detail en kry verdere, relevante besonderhede wat dalk nie in die advertensie verskaf word nie, soos prys, ouderdom, toestand, diensrekord, ondersteunende dokumentasie, waarborge, vorige skade of probleme ens.
  • vra of, waar en wanneer jy die item kan besigtig.

Belangrik: Indien ‘n verkoper huiwerig is om enige van die bostaande vrae te beantwoord, of die gesprek in ‘n ander rigting stuur en/of druk op jou plaas, hou verby.

  • ID: Verifieer die verkoper se besonderhede waar moontlik en gaan – veral in die geval van ‘n handelaar - hulle tevredenheidstelling en terugvoer van kliënte wat voorheen met hulle te doene gehad het na. Self ‘n vinnige Google-soektog behoort te help.
  • Veiligheid eerste: Vermy dit om verkopers by plekke wat onveilig voorkom te ontmoet, veral verkopers wat ongemaklik is daarmee of weier om jou in ‘n openbare ruimte te ontmoet.
  • Met jou eie oë: Neem jou tyd om die item na te gaan en maak seker dat alles is en werk soos wat dit geadverteer is. Neem ‘n vriend of vertroueling saam net vir veiligheid. As die item en verkoper ver van jou af geleë is, vra iemand wat jy vertrou om dit namens jou te besigtig.
  • Swart op wit: Versoek die item se handleiding of papierwerk waar dit van toepassing is.
  • Privaat-inligting: Moenie persoonlike inligting – soos jou woonadres – met ‘n verkoper deel voordat jy hulle besonderhede behoorlik nagegaan het nie.
  • Hou jou beursie toe: Moet nooit jou kredietkaart- of bankbesonderhede aan ‘n verkoper gee, of kontant saam met jou neem die eerste keer wanneer jy hulle ontmoet nie. Nadat jy seker gemaak het dat dit ‘n goeie en wettige kopie is, kan jy die nodige kontant by ‘n nabygeleë OTM onttrek of ‘n elektroniese oorplasing doen. Vermy dit om ‘n “hou deposito” – waar verkopers ‘n item vir jou reserveer - te betaal.
  • Twyfelagtige transaksies: Vermy verkopers wat daarop aandring om internasionale betalingsdienste te gebruik. Hulle sal jou meestal van vervalste fakture met die logo’s van bekende diensverskaffers, maar hulle eie bankbesonderhede, voorsien.
  • Klikbek: Rapporteer verdagte verkopers onmiddellik aan die owerhede en/of die eienaars van webtuistes waar die item geadverteer word.

“Die belangrikste reël is om niemand te vertrou nie en jou vertroue moeilik te maak om te wen,” sluit Coetzee af. “Die gesegde is nie verniet ‘Haastige hond verbrand sy mond’ nie. Boewe maak daarop staat dat jy hulle goedsmoeds sal vertrou, oorhaastige besluite sal neem en so vir hulle ‘n lekker betaaldag sal verseker. Wees eerder skepties, neem jou tyd, pas hierdie reëls toe en doen so jou deel om ‘n verrassingsvrye kooptog te verseker.”

Virseker is ‘n produk van Auto & General, ‘n gemagtigde nie-lewensversekeraar en FDV. Alle B’s en V’s beskikbaar aanlyn.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!