Let Wel

Hoekom sonkrag sin maak

2 min lees tyd
Perskamer 19 Julie 2021 deur Virseker

Daar’s ‘n geneigdheid om te glo dat alles in die lewe wat plesier verskaf, geld kos. Maar wag ‘n bietjie – wat van die wonderlike dinge wat gratis is én jou op die lange duur boonop hope geld kan spaar? Soos sonkrag . . . 

Ons is besonder geseënd met heerlike sonskyn feitlik regdeur die jaar wat nie net wondere vir die gees verrig nie, maar ook jou lewe op soveel verskillende vlakke nog aangenamer kan maak. 

Selfs al word daar gedurig beloftes gemaak dat beurtkrag aangespreek word, duik daar daagliks vermanings op waar Suid-Afrikaners versoek word om kragverbruik te beperk. Dalk is dit tyd om sonslim te raak?

Maar as jy sonkrag gaan inspan, is daardie vermaning die allerlaaste waaroor jy jouself hoef te bekommer. Raak sonslim – dit maak jou lewe net soveel makliker. 

Rohann Mattheus van Solar Craft het ‘n bietjie meer lig hierop gewerp.

Een van die eerste vrae wat gewoonlik opduik is of daar enige beperkinge gaan wees as beurtkrag inskop. Sal jy byvoorbeeld ‘n paar ligte en dalk selfs jou TV-stel kan aansit? En natuurlik – watter ander moontlikhede is daar wat Solar Craft jou bied.

Volgens Rohann is die ononderbroke kragleweringstelsel (UPS) op ‘n trollie die geskikste oplossing in hierdie geval. Dit kom in verskillende groottes en alles hang natuurlik af van hoeveel ure bystand jy nodig het. Omdat die stelsel op wieletjies is, kan jy dit verskuif  na waar die behoefte aan kraglewering is. Dit werk op die “plug and play”-beginsel om sake nog makliker te maak.

‘n Meer permanente opsie is om jou bystandstelsel aan jou distribusiebord te koppel. Hierdie opsie stel jou in staat om die ligte aan en af te skakel, net soos wanneer jou gewone elektrisiteitsbron soos Eskom beskikbaar is. Hierdie opsie stel jou ook in staat om krag na verskillende punte in jou huis te voorsien. 

‘n Solarstelsel wat bestaan uit 15 sonpanele en ‘n sogenaamde  hibriede-stelsel is, wat outomaties met gekose dele van die distribusiebord in jou huis geïntegreer word, kan tot en met 80% van die toestelle in ‘n gemiddelde huis van krag voorsien. Die groot pluspunt is kragbesparing. En dan het jy natuurlik kragbystand wanneer beurtkrag jou in die steek laat. 

Die sonpanele kan tussen 25 en 30Kw/u per dag lewer en as jy jou kragverbruik reg bestuur, kan die meeste van jou huishoudelike toerusting deur die dag deur sonkrag aangedryf word. Dus, jou ys- en vrieskas, jou wasmasjien, tuimeldroeër, skottelgoedwasser – wel, selfs jou strykyster en swembadpomp – kan gedurende die dag gebruik word.

Noodsaaklike elektriese toebehore soos  jou TV, wi-fi, rekenaar en sekuriteitstelsel sal van bystandkrag afkomstig van die lithium-batterybank voorsien word tydens ‘n kragonderbreking of wanneer daar onvoldoende of geen son is nie. Jy hoef niks te doen nie – die stelsel skakel outomaties oor. Jy moet net die kragverbruik op so ‘n wyse bestuur dat dit nie die batterybank se vermoë oorskry nie.

Maar dis nie net dreigende beurtkrag wat dit die moeite werd maak om ‘n sonaangedrewe kragstelsel aan te skaf nie.

  • Keelvol vir hemelhoë elektrisiteitsrekeninge? Spaar op krag en jy spaar geld. So eenvoudig soos dit. Die son  is verniet. Jy moet net eenmalig kapitaal uitlê vir die aankoop van die toerusting en om die installasie daarvan te bewerkstellig. 
  • Kyk byvoorbeeld na die installasie van ‘n sonwarmwatersilinder. Binne 24 maande is dit basies reeds afbetaal wanneer jy die besparing op elektriese kragverbruik in ag neem. Praat van ‘n goeie belegging – met ‘n opbrengs van tot 50% per jaar, sê Rohann. Dit kom daarop neer dat geld wat jy andersins aan ‘n ander party sou uitbetaal, nou binne jou eie kring gehou word. 
  • Met die toenemende druk vanuit alle oorde, moet omgewingsbewaring nie uit die oog verloor word nie. Deur elke kWh wat vanaf die son geoes word, help dit om besoedeling wat deur steenkool veroorsaak word, te bekamp.  
  • Op ‘n meer persoonlike vlak: met jou eie sonkragstelsel bemagtig jy jouself ook om meer selfonderhoudend te wees. 

Toentertyd het Suid-Afrika baie goedkoop krag gehad. Maar deesdae sing jou bankrekening ‘n ander deuntjie as dit by jou kragrekening kom. Volgens Rohann het die belangstelling in sonkragstelsels veral die afgelope 10  jaar ‘n beduidende opwaartse kurwe begin toon, juis omdat dit so ‘n aanloklike belegging is waar jou geld en die son vir jou werk.

“Daar heers egter steeds ‘n groot wanopvatting onder mense dat dit baie duur is om sonkragstelsels te onderhou,” sê Rohann. “Die geheim is egter om die korrekte tegnologie te kies. Dan kan jy met gerustheid jou sonkragstelsels vir baie jare gebruik sonder enige roetine-onderhoud. Op die lang duur is dit dus in wese ‘n baie goedkoop belegging.”

Maar hy vermaan ook voornemende kopers dat die “alles-of-niks” aanslag nie noodwendig die antwoord is waar jy heeltemal onafhanklik van Eskom gaan wees nie. ‘n Gedeeltelike oplossing is wel moontlik en dit bied jou die beste van twee wêrelde. 

Tog duik die vraag op of jy wel ‘n basiese sonkragstelsel kan uitbou na ‘n omvattende netwerk om tog onafhanklik van die nasionale kragnetwerk te wees.

“Beslis,” sê Rohann. “Maar jy moet net die regte tegnologie kies. Dan is dit baie eenvoudig en maklik om modulêr by die basiese stelsel aan te bou en sodoende toe te sien dat jy heeltemal van die nasionale kragnetwerk kan wegbeweeg.”

Daar moet net van meet af aan seker gemaak word dat die installasie en komponente (soos byvoorbeeld die kabels en brekers) aan die minimum-vereistes wat deur SANS-regulasies voorgeskryf word, voldoen.

“Dit is baie belangrik om ‘n elektriese sertifikaat van voldoening (COC) op ‘n sonkragstelsel en ook ‘n  sertifikaat  van voldoening (COC) van ‘n loodgieter op die waterstelsel te ontvang sodra die installasie voltooi is. Daardie dokumentasie is op die ou einde die bewys dat die stelsel aan die minimum voorgeskrewe vereistes voldoen,” sê Rohann.

Hy noem ook terloops dat sonkrag wêreldwyd suksesvol in lande ingespan word waar daar minder sonskyn as in Suid-Afrika is. Europa en die Verenigde Koninkryk is maar twee van die lande waar daar ‘n groot aantal sonpanele geïnstalleer is.

“As die tegnologie so goed ontvang word in ander wêrelddele, dan moet mens jouself net afvra hoekom dit nie reeds op ‘n baie groter skaal in ‘n sonnige land soos ons land geïmplementeer word nie,” sê hy.

Hoe, waar en wie?

“Besluit wat jou kragbehoeftes is voordat jy op ‘n sonkragstelsel besluit. Is dit bloot net vir gerieflikheidshalwe wanneer beurtkrag inskop of wil jy heeltemal van die kragnetwerk wegbeweeg?

“Kyk ook na die geskiedenis van jou kragverbruik om seker te maak jy maak ‘n ingeligte besluit oor watter stelsel vir jou die beste sal pas,” is Rohann se advies.

Hy noem ook dat dit belangrik is om seker te maak dat die verskaffer wat jy wil nader, oor stewige en jarelange ervaring in die bedryf moet beskik. SANS-regulasies moet streng nagekom word en die verskaffing van die sertifikate van voldoening (COC) is nie eers onderhandelbaar nie. Dit is ‘n integrale deel van die installasie. 

Gaan na http://www.solarcraft.co.za vir meer inligting.

As jy 'n sonkragstelsel installeer of reeds is, is dit belangrik dat dit op jou gebouversekering gevoeg word. Kontak Virseker vir 'n kwotasie.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!