Let Wel

Die nuwe Toyota Hilux – taaier, meer gevorderd

2 min lees tyd
Perskamer 15 Maart 2021 deur Virseker

Die Toyota Hilux is een van die gewildste rygoed in Suid-Afrika, en die nuutste weergawe bied ’n groter fokus op tegnologie, gerief en gemak. Terselfdertyd is die tradisionele Hilux-kenmerke van taaiheid en duursaamheid behou, en bou voort op die robuuste grondslag van die agtste geslag se argitektuur en verteenwoordig ’n nuwe grens met nog meer dinamiese verrigting, tegnologie, styl en toerusting.

Boonop gaan een gelukkige persoon danksy Virseker en KykNET ’n 2021 Hilux Raider 2.4 GD6 4x4-model ter waarde van R609 500 wen!

Indien jy nog nie ingeskryf het nie, neem hier deel: http://bit.ly/VirBakkie

Die kompetisie eindig 30 April 2021.

Hier is 10 goed wat jy van die Hilux Raider 2.4 GD6 4 moet weet:

1. Buite-stilering

Toyota het die Hilux einde 2020 opgeknap met ’n vars voorkoms. Die mees opvallende verandering is aan die voorkant, met nuwe skraal kopligte aan weerskante van ’n splinternuwe voorrooster- en bufferontwerp. Die nuwe stilering gee die Hilux ’n moderne dog onmiskenbare taai voorkoms.

2. Verbeterde instrumentasie

’n Nuwe ontwerp vir die instrumentehuisie verwelkom die bestuurder en behels metaalinvoegsels, ’n ringomhulsel en ’n metaalrand. Die 8”-skerm vir die inligtingvermaakstelsel het nou ’n swewendeskermontwerp, terwyl die draaiknoppe vir makliker gebruik behoue ​​bly. 

3. Verfkleure

Daar is nege buitekleure om van te kies en te keur, waaronder die nuwe Oxide Bronze en Pearl White kleure, ’n eerste vir die Hilux.

4. Wiele en bande

Die Raider-modelle spog met 17-duim-allooisierwiele in donkergrys metaalafwerking.

5. Sleepvermoë

Die 2.4 GD-6 4x4 kan nou tot 3,5 ton sleep, wat met dié van die 2.8 GD-6 4x4-model ooreenstem.

6. Verbeterde ritgemak, hantering en geraas

Toyota se ingenieurs het rygerief verbeter sonder om veldryverrigting en duursaamheid in te boet – alles danksy nuwe veringtempo’s, skokbrekers en veringbusse wat ratser hanteringsreaksie lewer en rygerief verbeter, veral wanneer die voertuig nie gelaai is nie. Terselfdertyd handhaaf die Hilux sy bekende veldryverrigting, vragdravermoë, stabiliteit en rompbeheer – op sinkplaatpaaie ook. 

7. Nuwegenerasie-inligtingvermaak

Die Raider-modelle pronk met ’n splinternuwe 8-duim-inligtingvermaakstelsel met Apple CarPlay- en Android Auto-werking, wat gebruikers in staat stel om toepassings van hul selfoon te weerspieël. Navigasie-toepassings soos Google Maps en Waze is ingesluit en die insittendes kan ook toegang tot hul musiekbiblioteke en stroom-rekeninge via programme soos Apple Music, JOOX, Spotify en SoundCloud geniet. Kabellose telefonie word deur Bluetooth ondersteun met ’n USB-sok vir ander media-opsies.

8. Propvol standaardtoerusting en veiligheidskenmerke

Die Raider-model het hul ruim toerusting, en nou ook kant- en gordynlugsakke. Ligdiode-misligte, ’n vergrote multi-inligtingskerm (MID) en parkeerafstandbeheer (PDC) is deel van die toerustinglys. 

9. Toyota Connect

Al die Hilux-modelle is ook toegerus met die Toyota Connect-telematika-stelsel wat WiFi-toegang in die motor en komplimentêre 15 GB-data bied.

10. Waarborg en instandhouding (diens)

Die Hilux het ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ’n diensplan vir nege dienste/90 000 km.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!