Let Wel

COVID-19: Bly Só Gemotiveerd As Jy Van Die Huis Moet Werk

2 min lees tyd
Perskamer 29 April 2020 deur Virseker

Die nuwe aanbieder van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou, Marciel Hopkins, spog met met ’n Honneursgraad in sielkunde van die Universiteit van Stellenbosch en is ook ’n opgeleide lewensafrigter. Nie net lewer Marciel motiveringspraatjies nie, maar sy help ook individue om ’n positiewe ingesteldheid te hê.

VIRSEKER, wat die hoofborg van Boer Soek ’n Vrou is, het by Marciel gaan aanklop vir wenke vir Jan Alleman wat weens die Covid-19-pandemie tans uitdagings in hul persoonlike of professionele lewens in die gesig staar. Só moet talle mense, veral kantoorwerkers, nou vir die eerste keer van die huis werk en dit is makliker gesê as gedaan.

Hier is Marciel se raad om gefokus te bly:

  • As jy van die huis af moet werk, en jou werkgewer het nie vir jou ‘n werkskedule / roetine vasgestel nie, is dit belangrik om vir jouself ’n roetine of struktuur te skep, want niemand anders gaan dit nou vir jou doen nie. Staan elke dag dieselfde tyd op, trek vir jou dag-klere aan, eet ontbyt, sit jou foon weg en begin met jou werk. Probeer om alles van jou roetine so na as moontlik te hou aan hoe wat dit was voor die inperkingstydperk.
  • Rig ook jou werksarea in met so min as moontlik afleidings en maak jou lessenaar skoon van alles wat moontlik jou aandag kan aftrek.
  • Stel vir jouself realistiese tye vas waarin jy produktief wil wees en eksperimenteer met die tydsgleuwe wat vir jou die beste werk.
  • As jy voel jy het heeltemal fokus verloor, neem eers vir ‘n uur of twee ’n breek en doen iets anders om jou aandag af te lei - byvoorbeeld spring vir 20 minute tou, bel ’n geliefde of pak ‘n kas reg. Sodra jy voel jy het weer jou fokus terug, wees vir solank as moontlik produktief in die tydsgleuf wat jy vir jouself uitgesit het.
  • Stel ook vir jouself klein, haalbare doelwitte vir elke dag om jou gemotiveerd en gefokus te hou.

Moet wel nie te hard op jouself wees as jou produktiwiteit nie so goed is soos wat dit in die werksomgewing sou wees nie. Dit is ’n groot aanpassing om skielik van die huis af te werk. ’n Nuwe gewoonte neem juis 21 dae om werklik deel van jou ritme te word – vermy dus om die huidige werklikheid te vergelyk met hoe dit altyd was.

Neem dit dag vir dag en doen soveel as wat jy kan met die fokus-kapasiteit wat jy tot jou beskikking het. 

Onthou om altyd steeds aan jou werkgewer se vereistes en instruksies gehoor te gee om seker te maak dat enige onaangenaamdhede vermy word.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!