Let Wel

Agt wenke vir ’n sterker immuunstelsel

2 min lees tyd
Perskamer 20 Mei 2020 deur Virseker

Met of sonder Covid-19 in ons midde, is dit vir seker ’n goeie idee om jou immuunstelsel stukrag te gee voor en tydens die winter - oftewel griep- en verkoue-seisoen! Om jou liggaam se natuurlike verweer te versterk, is belangrik om jouself teen virusse, kieme en bakterieë te beskerm.

Hoewel dit makliker gesê as gedaan om jou immuniteit skop te gee, kan ’n paar veranderings aan jou dieet en leefstyl wondere daarvoor doen.

Hier is ’n paar wenke om op ’n natuurlike manier woema aan jou immuunstelsel te gee:

1. Slaap genoeg

Gehalteslaap van sewe tot agt ure per nag is belangrik vir enige mense se welstand. Boonop wys navorsing dat genoeg slaap jou natuurlike immuniteit kan versterk.  Wanneer jy siek is, is jy geneig om meer te slaap, want dit gee jou immuunstelsel kans om op die frontlinie jou liggaam se vyande te veg.

2. Goeie voeding

Een van die mees logiese wenke om jou immuunstelsel blink te poets, is deur slim te eet. Ja, dit maak saak wat jy verorber en daarom is dit belangrik dat jou dieet noodsaaklike vitamines, minerale en antioksidante bevat. Dit kry jy deur volgraanvoedsels, lae-vet proteïne en vars vrugte en groente te eet.

3. Kry genoeg “regte” vette in

Jou dieet moet genoeg goeie vette bevat, veral poli-onversadigde vette met omega 3. Omega 3 versterk nie net jou immuunstelsel nie, maar verbeter ook breinfunksie. Dit is dus belanrik dat jy olieryke vis soos salm of makriel eet, terwyl okkerneute, sojabone, olyfolie en sonneblomolie ook onversadigde vetsure bevat.

4. Gebruik probiotika

As jy gereeld jogurt en groente eet behoort jou liggaam te sorg vir genoeg probiotiese organismes. Andersins moet jy aanvullers gebruik wat die immuniteit van jou spysverteringstelsel sal versterk.

5. Vermy suiker

Suiker is maar meestal slegte nuus en kan jou immuunstelsel aftakel. Tog vir ietsie soet, kan jy heuning oorweeg, want dit versterk witbloedselle wat weer op hul beurt bakterieë en virusse in jou liggaam die stryd aansê.

6. Ligte oefening

Gereelde ligte oefening soos ’n drafstap, draf, swem of fietsry kan jou immuunstelsel ‘n hupstoot gee. Wees wel bewus dat voortdurende, ondeurdenkte en intense oefening moontlik jou immuunstelsel mag onderdruk.

7. Kry genoeg vloeistof in

Om gehidreerd te bly beskerm jou nie noodwendig teen virusse en kieme nie, maar dit is baie belangrik vir jou oorhoofse gesondheid. Dehidrasie kan liggaamsfunksies kniehalter en jou meer vatbaar vir siektes maak. Genoeg gesonde vloeistof soos water op ‘n daaglikse basis, sal wondere vir jou gesondheid doen.

8. Moenie rook nie

Dit klink seker soos ’n plaat wat vashaak, maar om te rook is nie goed vir jou nie. Buiten al die gesondheidsgevare wat rook inhou, saboteer nikotien ook jou immuunstelsel.

Let wel: Hierdie artikel vervang nie mediese advies nie en is net algemene wenke. Dit is altyd raadsaam om ’n dokter oor siektesimptone te spreek.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!