Virseker beker op ys na opskorting van kontaksport in skole

 

Die Virseker Beker skolerugbytoernooi vir 2021 sal – dienooreenkomstig met die Departement van Onderwys se opskorting van alle kontaksport – vir eers op ys geplaas word.

Virseker gooi sy gewig ten volle agter Afrikaans as taal, hoëgehalte Afrikaanse versekering, Afrikaanse onderrig, -vermaak en -sportontwikkeling en steun hierdie toernooi, wat hierdie jaar sy honderdste bestaansjaar sou vier, met trots.

Die Virseker Beker het reeds die afgelope naweek afgeskop met streng Covid-19 voorkomingsmaatreëls in plek, wat onder andere behels het dat geen toeskouers by die wedstryde teenwoordig sou wees nie en dat wedstryde op kort kennisgewing gekanselleer kon word indien daar kommer sou wees oor positiewe gevalle, maar die Departement van Onderwys het vandag aangekondig dat alle kontaksport binne skole onmiddellik opgeskort word.

“Die toernooi is nog net twee maal in sy geskiedenis afgestel – in 1948 weens die Polio epidemie en in 2020 weens die uitbraak van Covid-19,” sê Neil van der Walt, Bemarkingsbestuurder van Virseker, “Dis nie noodwendig wat in 2021 gaan gebeur nie, maar met die bedreiging van ‘n derde golf van die pandemie hou ons ons vingers op die pols en  onderneem ons om te alle tye, in samewerking met die Departement, in die beste belang van leerders optree. Sodra die Virseker Beker weer kan afskop én ons ons leerders, hul ouers en onderwysers kan veilig hou, gaan ons volstoom voort met eersteklas skolerugby!”

Alle Virseker Beker-verwante nuus sal op Virseker Beker se Facebook blad beskikbaar wees.

Virseker is ‘n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Beperk, ‘n gemagtigde Versekeraar en Finansiele Diensverskaffer.