2020 Virseker Beker Verloor Die Stryd Teen COVID-19

 

Rugbyspelers deins gewoonlik nie vir veel terug nie, maar 'n mikroskopiese teenstander het daarin geslaag om draaie om ons sportlui te hardloop.

In die lig van die Covid-19-pandemie, het Virseker en die bestuur van die Noordvaal Hoërskole Rugbyvereniging besluit om alle wedstryde van 2020 se Virseker Beker rugbytoernooi op te skort. Die besluit is geneem met inagneming van die erns van die pandemie, die gepaardgaande maatreëls, die impak op skole se werkslading, sowel as die finansiële implikasies daarvan.

Die Virseker Beker is Suid-Afrika se oudste skolerugbytoernooi en vier vanjaar sy honderdste bestaansjaar. Hierdie spesiale mylpaal het ons besluit baie moeilik gemaak, maar ons moet die betrokke leerders se veiligheid en akademiese verpligtinge, sowel as die veiligheid van ondersteuners, eerste stel.

Hoewel platforms soos die SOS Wolkskool, wat deur die Virseker Trust ondersteun word, leerders help om op datum te bly, verkeer skoolpersoneel en leerders steeds onder geweldige druk en is dit ons plig, én ons voorreg, om hulle te ondersteun.

Ons bedank elke vennoot, speler, skoolpersoneellid en ondersteuner wat die Virseker Beker elke jaar van krag tot krag laat voortstoom, veral dié spelers wat nie hierdie jaar die geleentheid sal kry om aan die toernooi deel te neem nie. Danksy ons polishouers se bydrae staan ons steeds bankvas agter skolerugby en die ontwikkeling van uitblinktalent, en ons kyk reeds vorentoe na 2021.

Die Noordvaal Unie bestuur die toernooi, en dus kan enige navrae aan Hans van Vreden, Sekretaris van die Noordvaal Unie, by hvanvreden@midstreamcollege.co.za, gerig word.